26 dae gelede
Laitie vul magies
superster: Euclid Franks verlig die hongersnood in sy community. Foto’s: JONATHANLESTRADE  ~ 

HY IS klein, maar sy hart is groot.

Só word Euclid Franks (12) van Uitsig deur sy gemeenskap beskryf.

Dié jong man het ’n week gelede besluit dat hy terug wil gee aan sy gemeenskap, veral die jong kindertjies.

“Ek weet nie of hulle iets het om te eet in die aand of in die oggend nie, en ek weet daar is baie mense wat suffer en sukkel, en as ek iets kan doen om daai hongerte, al is dit net vir die oomblik, weg te neem, sal ek,” sê hy.

Franks sê hy hoef nie te worry oor kos vir homself nie, maar kan nie gaan slaap as hy weet daar is iemand wat nie het nie.

“Ek voel dit is my plig om iets te doen vir my mense, vir my gemeenskap, en al het ek nie baie nie, sal ek gee wat ek het.

“Hulle sê mos elke bietjie maak ’n verskil,” sê die jong man.

Met die hulp van ’n paar anties in die gemeenskap is hy in staat om twee keer ’n dag kos aan die kleintjies te gee.

Een van die gawe tannies, Heather Solomons, sê sy is baie trots op Franks.

“Hy is nog baie jonk, maar sy hart is in die regte plek.

“Ek weet dat daar nog groter dinge vir hom sal kom.

“En as ons hom nou kan help om daardie groter dinge na te kom, sal ons omdat ons sulke jong mense in ons gemeenskap benodig,” sê sy.

Franks sê verder dit gaan nie net oor kos uitdeel nie, maar vir daai kort tydjie dat die kinders in die ry staan vir ’n bietjie kos, hou dit hulle weg van misdaad.

“Ons wat ouer is, moet hulle beskerm, want wie anders sal dan?” vra hy. 

  • Enige iemand wat vir Franks wil ondersteun met sy inisiatief, kan vir Solomons bel by 084 812 5151.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters