Verlede maand
Laitie is verlore as hy nie ID kry
Moeilik: Shamillah Paulse sê sy is bekommerd dat die seun na wie sy al vier jaar lank omsien, nie sonder ’n ID sy matriekeksamen kan skryf nie.  ~ _JONATHAN LESTRADE

SONDER sy ID sal dié matriekleerder nie die geleentheid hê om sy matriekeksamen te kan skryf nie.

Vir sy voog, Shamillah Paulse (53), is dit ’n groot bekommernis omdat hulle drome vir sy toekoms het.

Paulse verduidelik sowat vier jaar gelede het ’n maatskaplike werker aan haar voordeur geklop en gevra of sy vir ’n paar dae kan omsien na hierdie seun, wat nou 21 jaar oud is.

“’n Week het verbygegaan, toe ’n maand en nou is dit vier jaar later en hy is steeds in my sorg.

Teleurgesteld

“Dít is nie die probleem nie, maar ek is wel teleurgesteld dat daar nooit weer ’n opvolg van die maatskaplike werker se kant af was om uit te vind hoe dinge gaan nie.

“Ek en my familie het besluit om hom by ons te hou, om hom een van ons familie te maak en om hom in die skool te sit,” sê sy.

Paulse sê sy het eers later besef dat die seun ’n ID gaan benodig as hy matriek moet skryf of aansoek wil doen vir enige iets waar sy ID benodig sal word.

Die jong man is tans in gr. 12 in ’n hoërskool in Delft en sal in September eksamen moet skryf.

“Ek sukkel nou al ’n paar maande lank om sy ID in orde te kry, maar vergeefs. Binnelandse sake sê ek moet die seun se ma saambring sodat die aansoek kan voortgaan,” se sy.

Paulse sê sy het ál die dokumente by binnelandse sake voltooi, maar dit is nie genoeg nie. Hulle dring aan om die ma self te sien.

“Ongelukkig het hy nie sy pa se van nie, so die pa kan nie help nie,” sê sy.

Paulse verduidelik dat sy nie presies weet wat die jong man se agtergrond is nie, maar sy is bewus dat albei sy ouers haweloses is.

“Ek weet nie waar hulle dink ek die ma moet kry nie.

“Ons het probeer om sy ouers op te spoor. Ons het gelukkig sy ma se ID gekry wat die familie gehou het, maar ons weet nie waar sy ma nou is nie,” sê sy.

Verlore

Paulse sê tyd loop nou uit en die jong man se toekoms is op die spel.

“Die skool het vir hom gesê hy moet ’n ID hê of ’n bewys dat hy besig is om ’n ID te kry. Hy is verlore sonder sy ID.

“Hy het drome en wil graag by die weermag aansluit, maar alles is op hold as gevolg van die ID wat hy nie het nie.

Son het ’n navraag aan die departement van binnelandse sake gestuur, maar teen druktyd het die departement nie daarop reageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters