10 dae gelede
Laat my sterf
ONTHOU ALTYD: Die bedroefde ouerpaar hurk by die drein­deksel waarop ’n foto van Shaygan aangebring is. Foto’s: peter abrahams  ~ 

DIS ’n hartseer wat net ’n ma wat ’n kind verloor het, ken en kan beskryf.

Shaygan Simon (2) is op 7 April dood nadat hy in Blackheath in ’n drein geval het. Die afgelope Sondag het sy ouers, Simone Simon en Damian Jantjies, hulle familie en die gemeenskap op die plek bymekaargekom waar die tragedie plaasgevind het..

Met die gemeenskapslede se hulp het die couple die drein mooigemaak waarin Shaygan geval het.

Op die drein se deksel pronk ’n pragtige gesigfoto van die mooi seuntjie.

Simon het vir die eerste keer ná haar engelkind se dood haar hart teenoor Son uitgestort.

Sy sê niemand sal weet wat sy deurmaak nie.

Sy huil haar dae en nagte om en sy kan nie eens ’n stukkie kos inkry nie.

Die verpletterde ma wil self doodgaan, want sy dink sy het niks meer oor om voor te lewe nie.

Sy onthou: “Die dag van die gebeure wou Damian my nie laat weet nie, want hy het geweet hoe ek gaan reageer. Iemand anders het my gekontak en gesê my kind het in ’n drein geval.

“Ek het my skoene uit my voete geskop en begin hardloop.

“Ek het die hele tyd in my kop gesê dit kan nie waar wees nie.

“Maar toe ek by die toneel aankom en ek sien Damian se gesig, toe weet ek.”

Simon sê die enorme verlies het haar lewe onherroeplik verander.

Sy dink veral terug aan die dae dat sy haar prinsie op­gedress het. Sy vertel: “Bad tye was vir my die beste saam met hom.

“Ons sou sommer twee uur in die bad deurbring terwyl hy speel en liedjies sing. Daarna sou ek hom mooi aantrek en sy haartjies gel.

Gebreek

“Ek was lief daarvoor om ons aan te trek dat ons match.

“Mense was altyd beïndruk met hoe hy aantrek.”

’n Hartseer Simon sê die laaste keer dat sy Shaygan gebad het, was in die lykhuis. Daardie dag het haar gebreek.

Sy sê die mense het haar vooraf gewaarsku haar seuntjie gaan anders lyk omdat ’n outopsie toe pas op hom uitgevoer is.

“Toe ons daar instap, het Damian dadelik omgedraai en gesê dis nie sy kind wat daar lê nie.

“Ek het so ’n shock deur my lyf gekry, maar terselfdertyd het ek toe ook kalm geraak.

“Ek het my kind gewas en net myself laat dink hy slaap.”

Simon sê as ma is haar toekoms nou om moedig voort te gaan en te hoop haar pyn word later sagter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters