28 dae gelede
KYK: Wurms in sop ’n nare ding

“EK SAL nie iets vir my kinders berei wat ek nie sal eet nie.”

Só sê Marlene Philander (45) nadat een van haar kinders glo wurmpies ontdek het in die sop wat aan hulle geskenk is.

Philander en ’n klomp ander inwoners van Uitsig naby Ravens­mead het Maandagmiddag sop gekry.

Eers toe haar dogter Davidene­ (10) aan die sop begin eet, het sy wurms daarin gesien.

“Sy’t eers my agt maande oue kleinkind, Marchelle, gevoer. Toe sy hom klaar gevoer het en aan haar sop wil eet, toe wys sy vir my die wurms.

“Ek het toe vir my vriend gewys. Toe stem sy saam dit is wurms. Ek het vir nog ’n vriend gevra. Toe sê sy dis maaiers.

“Die ander kinders wat ook sop gekry het, het ook al begin eet aan die sop. Toe moet ons maar vir hulle sê om dit te los.”

Honger

Sy sê haar kleinseun was heelaand wakker en het nie lekker gevoel nie. “Daar was ook ander kinders wat siek geraak en opgegooi het as gevolg van die sop.”

Philander sê hulle voel te na gekom oor die hele saak.

“Ons almal struggle. Die kinders ly honger. Elke keer as hulle hoor daar is iets om te eet, dan hardloop hulle vir dit, maar dit is nie reg dat hulle dié sop gekry het nie,” sê sy.

Philander voeg by hulle is dankbaar vir wat hulle kry en wat aan hulle gegee word, maar vra dat wanneer mense kos skenk, hulle moet seker maak daar is niks fout daarmee nie.

’n nare affêre: Marlene Philander beskryf hoe die kinders siek geraak het nadat hulle die sop geëet het. Foto’s: JONATHAN LESTRADE

“As jy iets uitdeel vir kinders, dan moet jy seker maak dat dit reg is en jy moet onthou – wat nie vir jou reg is nie, gaan nie reg wees vir die kinders nie.”

Lorraine Fritz (75) sê dit is baie hartseer oor die sop en die wurms.

Sy sê: “Die kindertjies wat die sop geëet het, was die middag siek en het opgegooi.

“As ek die sop moes berei het, sou ek seker gemaak het daar’s niks fout nie.

“Ek wou nog aan die sop eet, toe hoor ek hoe hulle sê van die wurms.

“Ek het self die wurms gesien. Een van my kleinkinders het self ook die sop klaar geëet en ook in die nag siek geraak. So, daar was dan iets fout met die sop.”

teleurgesteld: Lorraine Fritz sê sy is baie hartseer dat hulle so te na gekom is.

Bewus

Philander sê haar kleindogter het haar vertel rdl. Beverley van Reenen het die sop uitgedeel, maar hulle is nie seker wie die sop gemaak het nie.

Sonhet Van Reenen vir kommentaar genader. Sy sê sy is daarvan bewus dat rumours versprei word oor wurms in die sop.

“Dit was nog warm en daar was niks fout met die sop nie.”

Van Reenen sê nie sy of die persoon wat die sop gemaak het, sal ooit kos berei wat hulle nie self sal eet nie.

“Dit is uiters nonsens dat daar wurms in die sop was,” braak Van Reenen gal.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters