9 dae gelede
KYK: Valley se mense unhappy
MORSIG: Theresa van der Merwe vee die vullis weg.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS eet meer vlieë as kos!”

So kla Theresa van der Merwe van Happy Valley oor die riool wat in haar straat voor haar huis die hele pad vol lê.

“Dit maak ’n mens skoon naar. Ons koop nou meer vlieëvangers as ooit tevore pleks van kos,” sê sy.

Van der Merwe is baie ongelukkig oor die situasie.

“Die kinders bly siek raak en bly in die hospitale beland deur die dreine.

“Ons kan dit nie meer vat nie. Ons kan nie eens eet nie. Die probleem gaan nou vir té lank aan en ek is oor en oor gatvol,” sê sy.

Van der Merwe sê die riool stoot op deur die dreine in die straat en blok mense se toilette en krane.

“Hier is mense wat nie eens hul toilette meer kan gebruik nie, want jy kan nie flush nie só sit die rioolsisteem druk onder die grond.

“Dis regtig onmenslik om so te woon. My eie kleinkind was op drie maande oud in die hospitaal weens die kieme wat in die lug hang en op jou bors kom sit.

“Ons is aldag naar. Jy wil nie eens eet nie. Kos maak is ook nie meer iets wat mens kan geniet nie omdat die reuk so diep en sterk in die lig hang dat jy nie eens ’n smaak het vir eet nie.”

Oor die naweek het nóg ’n inwoner sommer self ingespring om die rioolwater uit die pad te vee, maar dit was vergeefs.

Van der Merwe sê hulle waardeer opreg wat die buurman gedoen het, maar weet dit gaan nie help nie omdat die probleem nie in geheel uitgesort is nie.

Son het in Desember berig oor dieselfde rioolprobleem in Happy Valley.

Die Stad het toe aan Son bevestig hy weet van die probleem nadat hy klagtes daaroor ontvang het.

Die Stad het toe ook gesê die dreine is so twee of drie weke voor die betrokke klagtes skoongemaak.

Vir Van der Merwe is dit egter nie genoeg nie. Sy voel dit moet reg opgelos word.

“Die dreine moet reg skoongemaak word. Daar lê fout met die sisteem onder die grond en dis glad nie ’n nuwe probleem nie.”

Sy sê hulle sit al vir vyf jaar met die probleem.

VUIL: Verskeie strate in Happy Valley is vol rioolwater en ander gemors. Foto: Jonathan Lestrade

Xanthea Limberg, mayco-lid vir water en afval, sê: “Inwoners word herinner dat net menslike afval­ en toiletpapier die rioolsisteem betree en dat kookolie of vet uit potte en panne gevee moet word voordat dit gewas word. Dié stowwe word hard aan die binnekant van die pype, en werk soos gom op alles wat verbyvloei.

Doekies

“Ons besef die versuim van vullisverwydering kan die voorvalle van onwettige storting laat toeneem, maar inwoners word herinner dat, al is daar vertragings met die vullisverwydering, dit steeds elke week afgehaal word. As dit nie op die vasgestelde dag afgehaal word nie, moet jy dit elke dag uitvat totdat dit afgehaal word. Moet jou nie tot onwettige storting wend nie.”

GATVOL: Theresa van der Merwe sê sy kan die vieslike reuk net nie meer vat nie. Foto: Jonathan Lestrade

Limberg voeg by die riool-blokkasie in Happy Valley is gister skoongemaak.

“Die meeste van die oorstromings is weens inwoners wat lappe, koerante, vroulike higiëne-produkte, wet wipes, doekies, boumateriaal, kookolie en vet in die rioolstelsel stort,” sê sy.

Sy voeg by die Stad werk gedurig om verstoppings uit te sort, maar om die probleem heeltemal op te los, moet inwoners sorg hulle gebruik die rioolstelsel reg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters