25 dae gelede
KYK: Top cop vereer
HARTSEER: Nicolette Kinnear sit in die diens met ’n vergrote foto van haar man.  ~ Jonathan Lestrade

DIE Kinnear-gesin van Bishop Lavis was ontroosbaar by lt.kol. Charl Kinnear se gedenkdiens waarin daar aan hom hulde gebring is.

Kinnear (52), ’n bobaas-speurder by die polisie se eenheid teen bendegeweld (AGU), is meer as ’n week gelede voor sy huis doodgeskiet voordat hy nog by sy driveway kon inry.

Basis

Woensdag het van sy kollegas wat in sy drie dekade lange loopbaan as polisieman eens op ’n tyd saam met hom gewerk het, sy lof besing.

Sy gedenkdiens, wat by die polisie se squadron in Belhar gehou is, het met ’n kranslegging op die basis begin.

Genl.maj. André Lincoln, hoof van die AGU, het gesê sy hart is swaar.

“Hoe kan ek mense verwelkom as ek so voel? Dan wil ek nie eens dink aan hoe sy gesin en die res van die familie moet voel nie.”

Lincoln sê niemand sal Kinnear se plek in die AGU kan volstaan nie.

“Sy dood laat ’n leemte by die werk, sy huis en in die gemeenskap. Hy was geliefd in sy lewe en in sy dood.”

Kapt. Althea Jeftha, ’n lid van die AGU wat nóú saam met Kinnear gewerk het, sê hy was ’n goeie voorbeeld vir hulle almal.

“Geen woorde kan beskryf hoe ons hom gaan mis nie. Hy was meer as net ’n spanleier, hy was ook ’n vriend,” het Jeftha gesê.

Nog ’n lid van die eenheid het vertel Kinnear het oor die jare by talle gespesialiseerde eenhede gewerk.

“Hy het ’n never-give-up-houding gehad. Oral waarheen hy gestuur is, het hy uitgeblink. Hy wou hê die gemeenskap moes vry wees van bendes en bende­geweld.

“As mense weggekyk het, het hy ingespring, maar ek het hom nog nooit so trots gesien soos die dag toe hy langs die veld was toe sy jongste seun ’n doel geskop het nie.”

Kinnear se weduwee, Nicolette, (47) en sy seuns, Carlisle, Casleigh en Rozario was ontroosbaar toe kapt. Cyril Dicks die lied van Josh Groban “You Raise Me Up” aan die gesin opdra.

kinnear
HERINNERING: Kapt. Shereen Steenkamp oorhandig die foto aan die baasspeurder se weduwee, Nicolette, terwyl Kinnear se een seun, Carlisle, toekyk. Foto: Jonathan Lestrade

Talle lede wat die diens bygewoon het, kon ook nie hul trane keer nie.

Die Seepunt-polisie se speurtak, waar Kinnear die speurhoof was, het hom as ’n “champion” beskryf.

“As dié maar net ’n Bad Boys movie was waar ons almal ná die tyd kon byeenkom en ons sêgoed kon deel. Nou kan ons net sê: ‘Ons het saam gewerk, ons het saam gedien. Jy’s vir ewig in ons lewens gegraveer. Luitenant-kolonel, vir altyd.’ ”

Conwe Flink van Popcru het sy spreekbeurt gebruik om weer die onttrekking van die veiligheidsdiens by Kinnear se huis op te bring. “Ons wag nog om die verduideliking rondom dit te hoor.”

Yolisa Mataka, Wes-Kaapse polisiekommissaris, sê Kinnear was ’n skitterende ster in die polisie. “Sy dood kan nie ongestraf bly nie.”

BETOON EER: Min. Albert Fritz (middel), Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, woon ook die kranslegging en ander verrigtinge by. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters