14 dae gelede
KYK: Toelae kwyt ná siesa scam
soek hulp: Anthea Williams met haar babadogtertjie, Beyonce. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N VYF MAANDE oue babameisietjie se identiteit is gesteel.

Anthea Williams (38) van die plaas Botterberg naby Philadelphia het op 8 Februarie in die Tygerberg Hospitaal die lewe geskenk aan klein Beyonce.

Toe dié enkelma verlede maand aansoek doen vir ’n Sassa-toelaag, het sy gehoor ’n vrou in die Oos-Kaap draw reeds geld met die kind se geboortesertifikaat.

Dis ’n raaisel hoe dit gebeur het, want die ma van drie het die oorspronklike geboortesertifikaat by haar.

Sedertdien probeer Wil­liams dinge regmaak. Sy word egter heeltyd van Pontius na Pilatus gestuur.

Sassa het haar na binnelandse sake verwys om ’n geboortebewys te kry.

Williams is toe na Atlantis se binnelandse sake. Daar is sy verwys na Bellville; die kind is daar geregistreer.

Verlede Maandag toe sy in Bellville kom, wou hulle haar nie help nie omdat sy “te laat was” – nadat Tygerberg gesê het sy moet direk na die bestuurder gaan vir die bewys.

Williams is nou al goed moedeloos, want sy het nie geld om gou weer Bellville toe te gaan nie.

“Ons moet ver gaan om dit te doen. Hier ry nie taxi’s nie. Ek moet iemand betaal om my te neem.”

Sy moet nou weer wag totdat sy by die werk betaal word voordat sy weer die pad kan vat.

Wat haar ook ontstel, is dat haar ID-nommer op die geboortepapier is. Sy is bang mense maak op haar naam skuld, dan sit sy met die gebakte pere.

“Wat kan hulle nie alles op my naam doen nie?”

Williams is ook ongelukkig omdat sy rondgestuur word terwyl ’n vreemde persoon op haar kind se naam geld kry. “Ek het die geld nodig vir nappies en goedjies vir die kind.”

Williams vertel die dag ná die geboorte was sy ewe gelukkig omdat mense van binnelandse sake by die hospitaal was om die geboorte te registreer.

Vir Williams lyk dit soos bedrog. Sy wil net hê hulle moet die vrou vang en die geboortepapier by haar kry.

’n Sassa-woordvoerder in die Wes-Kaap, Shivani Wahab, het bevestig ’n Oos-Kaapse kind met dieselfde ID-nommer kry ’n grant.

Wahab sê Williams moet na binnelandse sake gaan om die duplikaat-ID uit te sort. Die persoon met die verkeerde nommer moet hulle kind herregistreer.

Weer

“Die kliënt moet dan ’n brief van binnelandse sake na haar naaste Sassa-kantoor neem om te wys die saak word ondersoek. Sy kan dan weer aansoek doen vir ’n toelaag.”

Thabo Mokgola, woordvoerder van departement van binnelandse sake, het gesê die provinsiale bestuurder in die Wes-Kaap ondersoek die saak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters