Verlede maand
KYK: ‘Tikkop’ vang toe trokkies
LAAT WAAI: ’n Vermeende dwelmverslaafde het met dié lorrie onder vyf polisievoertuie en talle ander verkeersvoertuie uitgejaag.  ~ Foto Verskaf

’N TIKKOP sal jou tande uit jou mond steel as hy moet.

Dié grap en waarskuwing het laas Saterdag ’n ernstige saak geword toe ’n vermeende tikkop ’n 29 ton-Scania-vragmotor gesteel en daarmee weggejaag het.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die diefstal omstreeks 17:40 plaasgevind.

“Volgens die bestuurder van die vragmotor was sy lorrie voor die bank geparkeer.

“Die sleutel was steeds in die lorrie se ignition en die voertuig was nie afgeskakel nie.”

Die vermeende tikkop (27) het toe die geleentheid raakgesien en in die lorrie weggejaag.

“Die bestuurder het ’n verkeersbeampte wat in die omgewing was, oor die voorval ingelig. Die bestuurder en die beampte het die trok agternagesit en die polisie en ander wetstoepassers se hulp ingeroep.”

Volgens ’n inwoner het die vermeende dwelmverslaafde eers deur die dorp gery.

“Toe ry hy Voorberg (tronk) se kant toe. Die polisie, verkeer en daai manne het hom agternagesit, maar niks maak nie.”

Die man het toe na verneem word die plaaspad na Piketberg se kant gevat.

Beskadig

“Die polisie het toe op die vragmotor se wiele geskiet om die vragmotor tot stilstand te bring,” vertel die inwoner.

Eers by Eendekuil se afdraaipad het die lorrie tot stilstand gekom nadat dit deur ’n padblokkade van verskeie polisie-, verkeers- en wetstoepassersvoertuie gery het.

Volgens Van Wyk is twee wetstoepassingsbeamptes beseer toe die trok deur die blokkade gejaag het. Twee voertuie is ook beskadig.

“Die verdagte is aangekla van voertuigdiefstal. Hy het reeds in die Porterville-landdroshof verskyn en is weer op 9 Februarie in die hof. Hy bly in aanhouding.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters