4 maande gelede
KYK: Talle skop vas
Ons bly!: Die sypaadjie-bewoners weier om pad te gee.Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

DIE gemeenskap van Scottsdene draai nou teen ’n groep sypaadjie-bewoners in Langstraat.

Hulle meen die sypaadjie-bewoners hou hulle werk en huise hostage.

Sedert die bewoners in Maart 2018 hulle intrek op die sypaadjie geneem het, is alle werk by die woonstelle gestaak oor die kontrakteurs meen hulle lewe is in gevaar.

Hokke

Die maatskaplike onwikkelingsforum in Oostenberg het Donderdag van die gemeenskapslede gemobiliseer om in Langstraat byeen te kom waar die sypaadjiebewoners woon.

Die meeste van die sypaadjiebewoners het onlangs hulle­ hokke self afgebreek nadat die boumaatskappy Ikhaya hulle R3 000 aangebied het om te trek.

Maar so vyf gesinne weier nog om te trek oor hulle nêrens anders het om heen te gaan nie.

Die forum, wat namens Ikhaya met die gemeenskap werk, wil niks hiervan hoor nie.

Die forum wil hê die bewoners moet trek – en sommer góú ook.

Toe hulle gister saam met gemeenskapslede opgeruk het, het dinge lelik geraak.

Die sypaadjiebewoners sak af teenoor die mense van die forum.

“Dis nie normaal wat julle nou doen nie. Ons bly hier, want ons het geen ander heenkome nie,” het Suzie September uitgevaar.

“Ek het nie ’n huis waarnatoe ek kan teruggaan nie.

“In my ma se huis bly daar baie mense. Daar is nie plek vir my nie.”

Vanessa Simons, ’n jong ma van ses kinders, bly ook op die sypaadjie.

Volgens haar het sy ook geen ander blyplek nie.

Twee van haar kleintjies woon reeds by haar skoonma, het sy gesê.

Aswill Hendricks, ’n inwoner van Scottsdene, het verduidelik hulle wil nie moeilikheid met die sypaadjie-bewoners maak nie, maar wil graag werk.

“Ons is hier vir werk. Ons soek werksgeleenthede. Wat ook al gebeur, hulle kan nie langer hier bly nie.”

Seerkry

Pieter Syster, die sekretaris van die forum, het gesê hy erken hulle het destyds ’n fout gemaak deur die families daar te plaas.

Syster het bygevoeg as hulle trek, kan werk vir die gemeenskap geskep word.

Hy het verduidelik: “Dis onmoontlik om te werk terwyl hier mense woon.

“Die mense kan seerkry, want dis nie veilig hier nie.

“As die mense net beweeg, kan ons vir hulle ook werk gee. Ikhaya gee ook vir elkeen R3 000 om iewers anders vir hulle ’n struktuur op te rig.”

Grant Twigg, ’n raadslid en mayco-lid van stedelike bestuur, het gesê die stadsraad is besig om stappe te doen om die bewoners van die sypaadjie af te kry.

“Die inwoners het nou al hulle ontevredenheid uitgespreek, omdat hierdie onwettige besetting van die sypaadjie veroorsaak dat mense nie werksgeleenthede kan kry nie,” sê Twigg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters