Verlede maand
KYK: ‘Soos ’n hond doodgemaak’
OOGGETUIE: Francois Loff wys hoe sy vriend se hande vasgemaak is voordat die cops hom na bewering aangerand het. Duerick, sy broer, was ook teenwoordig toe die aanval plaasgevind het.  ~ Jonathan Lestrade

“SY LEWE het niks vir hulle beteken nie. Hy is soos ’n hond doodgemaak.”

So vertel familielede en vriende van Gareth Louw van Bellville-Suid nadat die polisie hom na bewering Vrydag aangerand het en hy by die polisiestasie dood verklaar is.

Priscilla, die slagoffer se suster, sê die polisie het haar broer gesoek vir min­agting van die hof.

“Die polisie het hom vir ’n hele tyd gesoek en toe kry hulle hom hier om die draai by sy vriende.”

Gareth se vriende, Francois Loff en Duerick, sy broer, was teenwoordig toe hy aangerand is.

“Die beampte het by die huis ingekom en op Gareth gevloek. Hulle het hom eers gewurg en met ’n rooi band vasgebind. Daarna het hulle hom begin slaan.

“Een van die polisie­manne het vir hom gesê: ‘As jy nog so aangaan, gaan ek jou vrek choke.’

“Ek voel hulle het hom al klaar hier doodgeslaan. Hy het nog geruk ook en skuim het by sy mond uitgekom voordat hulle hom geboei en weggeneem het,” vertel Francois.

Duerick sê die polisie het erg aangegaan met sy vriend en hy het nie terugbaklei nie.

“Ons kon niks doen om hulle te stop nie,” sê hy.

Francois sê hy is erg getraumatiseer deur wat gebeur het.

“As hy nog weerstand gebied en teen hulle baklei het, dan was dit ’n ander saak, maar dit was nie so nie,” huil Francois.

Priscilla sê hulle gaan dit nie so los nie en wil weet wat presies gelei het tot haar broer se dood.

“Ons wil sy lyk gaan sien en clarity kry oor hoe hy geslaan is.”

Priscilla sê iemand het hulle ingelig dat haar broer dood is by die polisiestasie.

“Toe ek en my ma by die polisiestasie kom, is ons hanteer asof daar ’n hond gesterf het. Hulle wou niks details met ons deel nie.”

Arrogant

Sy sê verder Gareth se lyk is verwyder sonder dat hulle dit gesien het.

SKOK: Priscilla en haar ma, Sheila Louw, sê hulle kan nog nie aanvaar dat Gareth dood is nie. Foto: Jonathan Lestrade

Volgens Priscilla was die beampte met wie hulle gesels het, arrogant.

“Dit het gevoel asof my broer se lewe nie saak maak nie. Al was hy op drugs, beteken dit nie hy verdien om so te sterf nie.

“Ons sukkel nou nog om sy dood te aanvaar. Hulle het nie eens die decency gehad om ’n polisielid te stuur om die nuus oor te dra nie. Hulle stuur liewers ’n pastoor,” sê sy.

Gareth se ma, Sheila, sê haar seun het hulle wel baie leed aangedoen as gevolg van die drugs, maar hy het nie verdien om sy lewe só te verloor nie.

“My kind was gruwelik, maar hy was my kind en het dít nie verdien nie.”

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het Son na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat verwys, maar teen druktyd het hulle nog nie gereageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters