Verlede maand
KYK: Siegelaar voel nie regtig sleg
GEMEENSKAPSLEIER: Piet Siegelaar is aangestel as die gemeenskapskakelbeampte vir ’n nuwe behuisingsprojek in Eindhoven in Delft.  ~ Jonathan Lestrade

“DIT is pure leuens en is uit die put van die hel.”

So sê Piet Siegelaar van Eindhoven in Delft oor die aantygings wat teen hom gemaak is oor sy aanstelling as die gemeenskapskakel­beampte vir ’n behuisingsprojek in Eindhoven.

“Toe ek dit in die koerant sien, toe vat ek dit en het dit in die diepte van die see gegooi,” sê Siegelaar.

Siegelaar verwys na die aantygings wat Patricia Michaels en Hannah October laas week gemaak het dat hy eers weke ná die sluitingsdatum aansoek gedoen het vir die pos as gemeenskapskakelbeampte.

Hulle het ook beweer hy’t vir hulle gesê iemand het hom genomineer en hul raadslid het vir hom gesê hy gaan die pos kry.

October het verlede week aan Son gesê die hele aanstellingsproses was onreëlmatig.

“Ons is nou moeg van dié raadslid. Hy het nie die reg gehad om betrokke te raak by die aanstelling nie,” het October gal gebraak.

Raadslid Courtney van Wyk sê hy was glad nie betrokke by die aanstelling nie.

“As jy aansoek doen en jy kry nie die pos nie, moet jy dit aanvaar.”

Siegelaar sê hy stel nie in leuens belang nie.

“Ek is vir amper 20 jaar reeds ’n gemeenskapsleier in Eindhoven en mense ken my as ’n leier wat die gemeenskap help,” verduidelik hy.

Siegelaar sê hy weet nie waar Michaels en October daaraan kom om hierdie wilde aantygings te maak nie.

“Dit is leuens. Mense moet dit maar aanvaar. As jy ge-interview is en jy het nie deurgekom nie, dan moet jy dit aanvaar,” sê hy.

Genader

Siegelaar voeg by hy weet nie waar hulle daaraan kom dat hy eers ná die sluitingsdatum vir die pos aansoek gedoen het nie.

“As die voorsitter van die buurtwag werk ons baie close­ met die raadslid en hy het ons genader en gevra dat Eindhoven-inwoners hulle CV’s instuur vir die pos.

“Almal in ons groep het gevra dat ek die een moet wees wat aansoek doen, en kyk of ek kan deurkom.

“Ons het daaraan geglo dat ek die pos sal kry.

“As jou geloof sterk is, dan het jy geen worries nie,” verduidelik hy.

Siegelaar sê sy belange is in die gemeenskap en nie by leiers wat nie in die gemeenskap werk nie.

October en Michaels het ook met Son gedeel hulle voel daar is geslagsdiskriminasie in dié geval.

Michaels het gesê: “Ek het gevoel daar is teen my as vrou gediskrimineer en ek is nie ernstig opgeneem in die onderhoud nie.”

Ongelukkig

October het laat hoor sy voel ook dat vroueregte ondermyn word.

Siegelaar sê hy weet nie op watter gronde hulle hierdie aantygings maak nie.

“By die interview was ons drie mans en twee vroue, en ongelukkig het een van die mans gewen en dit moet aanvaar word,” sê hy.

Hy voeg by dat hy van die begin af vir hulle gesê het dat die gemeenskap nie geld het nie en hy self nie kos op hul tafels kan sit nie.

“Die projek moet voortgaan en ons moet kyk hoe ons ons gemeenskap kan help. Dit gaan oor die gemeenskap. Ek het deur die proses gegaan en dus voel ek nie regtig sleg omdat ek die pos gekry het nie.

“My gemeenskap staan saam met my en ek as leier ondersteun hulle.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters