4 maande gelede
KYK: Sidewalkers moet pad vat
verlore: Shavaan Vardien sit saam met een van sy vyf kinders by sy afgebreekte blyplek.Foto’s:Melinda Stuurman  ~ 

MENSE moes Vrydag hulpeloos toekyk hoe hulle hokke afgebreek word.

’n Helse geveg het uitgebreek tussen mense wat in Long Street, Scottsdene, op die sypaadjie woon en die Oostenberg Sosiale Gemeenskapsforum (OSG).

Die forum het mense gevra om die hokke af te breek in ruil vir werk.

Die OSG tree na verneem word namens ’n konstruksiemaatskappy op.

Alle konstruksiewerk is gestaak nadat mense in Maart verlede jaar op die sypaadjie begin plak het.

Toe lede van die gemeenskap die site Donderdag besoek, het hulle die plakkers gewaarsku hulle moet beweeg, want hulle hou hulle werk en huise vas.

Vrydag het die gemeenskap saam met die OSG opgeruk en die hokke begin afbreek. Law en­forcement en die polisie het net gestaan en toekyk hoe die gemeenskap die weerloses se wonings tot niet maak.

Shavaan Vardien, een van die plakkers, het sy hokkie vergeefs probeer red.

Hy het drie van sy vyf kinders in die hok toegesluit sodat die skare nie die hok kan afbreek nie.

Dit het die groep egter glad nie gestop nie.

Mense moes die kinders uit die hok haal om hulle veiligheid te ver­seker.

’n Hartseer Var­dien het die hele tyd geskree: “Waar gaan ek en my kinders vanaand slaap?

“Ons het nêrens heen om te gaan nie!”

Rosaline Collins, Vardien se skoonma, het byna van haar kop af geraak toe sy sien haar dogter se hok is afgebreek.

Collins het op en af gespring terwyl sy haar gesig in haar hande vasgehou het.

Hoewel sy ’n huis het, het sy nie plek vir haar dogter nie omdat sy reeds boarders op haar jaart het.

Collins het gesê: “Sy het by ons gebly, toe trek sy Delft toe. Daarna het sy geswerf en toe hier ’n blyplek gekry. Die einste mense wat haar hier gehuisves het, steek haar nou in die rug.”

Vanessa Simons, ’n jong ma van ses kinders, het met haar pasgebore baba op haar arm teen die gemeenskap baklei toe hulle haar hok wou afbreek.

Sy het selfs voor die graaf ingespring terwyl ’n man haar hok afgekap het. ’n Leier van die forum het die man gekeer en hy’t gestop.

Ná ’n ruk het die gemeenskapslede opgehou om hokke af te breek. Later is versterkings ingeroep en die res van die hokkies is afgebreek.

Jonathan Fortuin, ’n leier van die OSG, het aan Son bevestig die mense wie se hokke afgebreek is, is mense wat in ander se hokke getrek het.

Fortuin het gesê die wet­tige eienaars wil hê die mense moet uittrek sodat hulle die R3 000 kan kry wat aan hulle belowe is.

Die konstruksiemaatskappy het na bewering belowe om elkeen R3 000 te betaal wat sy hokkie afbreek sodat bouwerk kan voortgaan.

Rdl. Grant Twigg, mayco member vir landelike gebiede, het laas week gesê die Stad Kaapstad is besig om die plakkers van die sypaadjie te verwyder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters