5 maande gelede
KYK: ‘Polisie wou ou silence’

“DIE dag dat jy lê, dan bid jy vir jouself, as niemand iets vir jou kan doen nie.”

Dís die woorde wat Nadia Mintoor altyd met haar seun Naeem Zulfaqaar du Toit gedeel het.

Naeem is gister in Uitsig dood. Daar word beweer ’n polisieman het hom geskiet.

Ooggetuies het op die toneel beweer Naeem het vroegoggend in Fabriekstraat in Eureka Estate op mense geskiet.

“Die polisie was seker in die omgewing toe hulle die skote gehoor en daarnatoe gejaag het.

“Naeem het weggehardloop, maar die polisie het hom agternagesit,” het ’n ooggetuie vertel.

Die ooggetuie het gesê sy het gesien hoe Naeem om die draai kom, met die polisie agter hom aan.

Naeem Zulfaqaar Du ToitFOTO verskaf

“Ek kan nie sê of hy op hulle geskiet het nie, maar iemand van die polisie het geskiet, toe val Naeem.

“Maar toe hardloop hy aan, toe is daar weer in sy rigting geskiet en hy het weer geval en nie weer opgestaan nie,” het die ooggetuie gesê.

Ander mense op die toneel het weer gesê Naeem was nie betrokke by die skietery in Fabriekstraat nie; hy was die hele tyd daar by die flats waar hy geskiet is.

Aangegaan

Naeem se ma sê sy weet nie wat gebeur het nie omdat sy by die werk was toe sy hoor haar seun is geskiet.

Sy kan nie sê wat aangegaan het nie.

Naeem se meisie, die 21-jarige Mercia Banies, sê in 2018 het Naeem klagte van ontvoering, aanranding en poging tot moord teen die polisie gelê nadat die polisie hom na bewering aangerand het.

straf: Mercia Banies soek geregtigheid.

“Hulle het hom ná die aanrading by die hospitaal afgelaai. Die kameras by die hospitaal het dit opgevang. Ek voel hulle het op hom geskiet en wou hom doodmaak omdat hy die saak het teen hulle.”

Sy hou vol: “Hy het nie op hulle geskiet nie.

“Toe die polisie kom, toe hardloop hy en hulle skiet vir hom laat hy lê, maar die ander ou wat saam hom was, het hulle niks gemaak nie. So, ek voel hulle wou vir hom skiet.”

Banies sê sy is baie seergemaak oor die gebeure.

“Niemand was ooit so lief vir my soos hy vir my was nie. Hy het my aanvaar soos ek is en ’n verandering in my lewe gemaak.

“Ons soek geregtigheid vir sy moord.

“Daai polisieman moet afgedank word en opgesluit word,” sê sy.

Mintoor erken dat haar seun ’n lid was van die American 26-bende.

“Ek weet my kind was by die bende betrokke en ek het my al voorberei vir dié dag, maar dit is nog vir my baie hartseer.

Respek

“Die polisie het ’n profile van hom gehad en hy was gelabel as ’n hit man, maar daar was geruime tyd geen sake teen hom nie.

“Hy het probeer uitkom uit die bende, maar dit het hom ingesluk,” sê sy.

Mintoor sê haar seun het respek gehad vir haar en die mense rondom hom; hy was nie koelbloedig nie.

Die ma voeg by geregtigheid moet geskied.

Sy wil ook hê dat die polisie verantwoordelikheid aanvaar vir haar kind se dood.

Sullaiman du Toit, Naeem se broer, het per telefoon gesê die polisieman wat sy broer na bewering geskiet het, moet opgesluit word.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek die omstandighede rondom hierdie voorval.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters