Verlede maand
KYK: ‘Plaas jou in hulle skoene’
DIS KOUD! Dereck Peceur, die hoof van die Drakenstein Brandweerstasie, en Mandie Erasmus, die stigter van HEART, gaan vanaand buite slaap. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

“NIEMAND begin sy lewe as ’n hawelose nie. Dis omstandighede wat mense deurheen druk.”

So meen Dereck Peceur, die assistenthoof van die Drakenstein Brandweerstasie, oor mense wat op die straat bly.

Die Paarlse brandweerman gaan sy brandblusser neersit en ’n kombers gryp om die klem op haweloses se si­tuasie te plaas.

Peceur gaan vanaand met lede van die organisasie HEART op straat slaap vir bewusmaking en om skenkings te kry vir haweloses in die Paarl.

HEART is ’n organisasie sonder winsmotief wat liefdadigheidswerk in die Drakenstein-omgewing doen.

Mandie Erasmus, die stigter van die organisasie, sê hulle het reeds in Mei begin met ’n projek vir haweloses.

Erasmus was uiters teleurgesteld dat dit so min ondersteuning gekry het.

Sy vertel sy het een aand oor iets anders by Peceur gaan kuier en die idee het toe posgevat.

“Ek het hom gevra of hy vir my ’n kombers sal gee as ek op straat slaap en hy het geantwoord: “Met die grootste liefde. Ek slaap sommer saam met jou op straat.”

Vanaand sal hulle die koue in die Shoprite-parkeerarea in die dorp met slegs ’n kombers trotseer.

Van Peceur se kollegas wat van diens af is, sal ook aan die veldtog deelneem.

“Jy kan slegs verandering bring as jy weet wat die mense op die straat regtig deurmaak,” sê Peceur.

Hulle nooi ander mense uit om deel te wees van hierdie ervaring en om donasies vir die haweloses te bring.

Bridge House, ’n onafhanklike skool, sal sop aan die deelnemers skenk.

Onderhoud

Die verskil tussen HEART en baie ander soortgelyke organisasies is dat hy begunstigdes registreer vir sy sogenaamde papkombuise sodat hulle deurlopend hulp kry.

Erasmus sê dit is nie ’n geval van enige een kan in die lyn kom bakhand staan nie.

“Baie staan in lyne om iets te ontvang en sodra hulle wegloop, verkoop hulle dit vir dwelms, alkohol of geld. Ons voer ’n onderhoud met elke begunstigde en identifiseer dan hulle behoeftes.

“Ons kry dan skenkings van klere en skoene ook.”

Sy beskryf die lede van die organisasie as “professionele bedelaars”, want dit is wat hulle doen om behoeftiges by te staan.

Erasmus sê ook die doel van HEART is om haweloses van die straat af te help en om hulle te help om ID’s en Sassa-geld te kry.

Sy meen baie ordentlike mense beland weens omstandighede op die straat en het geen ander hulp nie.

  • Vir meer inligting of om skenkings te maak, bel Erasmus gerus by 062 537 5206 of stuur e-pos na heartnpo­203306@gmail.­com.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters