4 maande gelede
KYK: Op die nat en koue straat
oos, wes ... Baie ryk mense se hondehokke lyk beter as dié hokkies waarin bergies teen die koue en nattigheid skuil.  ~ 

UITGESIT.

En nou is hulle weer die straatmense sonder ’n stem wat heeltyd geslat word met die Stad Kaapstad se munisipale wette (by-laws).

Dís die lot van ’n spannetjie wat al jare in ’n verlate huis naby die Parow-treinstasie gewoon het.

Maar nou is hulle met hofbevele in die hartjie van ’n koue en boonop nat winter op straat gesit.

En dan slaan die Stad weer toe met sy by-lawwaarkragtens hulle verbied word om op straat te woon of te slaap.

By Son se aankoms gister in Cloetestraat was sommige van die bergies besig om hul papnat gereënde klere te probeer droog kry.

Ander het reeds geskarrel op soek na droë slaapplek.

Die nege hawelose gesinne vertel die huis, wat die eiendom van die Passenger Rail Agency of South Africa (Prasa) is, was ses jaar lank hulle tuiste.

Hulle het Dinsdagmiddag die skok van hulle lewe gekry toe Prasa-sekuriteitswagte daar opgedaag het.

Dié het hulle aangesê om te skoert – dít sonder om ’n uitsettingsbevel te produce.

Sandra Steve (40) vertel sy het sommer begin siek raak toe die gebou afgebreek is terwyl sy en ander nog binne was.

Steve sê: “Ek dink dis die skok van alles wat gebeur het wat my so siek gemaak het.

“My maag het sommer begin draai en ek het naar gevoel.”

Andrea Adams (43) sê sy het ’n ambulans vir Steve ontbied. Adams sê die kleinste kind in hulle midde is net ag jaar oud.

Michael Jack (37) vertel: “Die plek was destyds gevandaliseer en die dak was klaar af toe ons besluit het om daar in te trek.

“Twee, drie jaar terug het ons ’n notice gekry dat ons uit die plek moet gaan.

“Maar, nou vra ek jou, waarheen dan? Ons het nêrens waarheen ons kan gaan nie.

“Ons het nie gedink hulle sal sommer sonder ’n hofbevel weer opdaag nie.”

Dokumente

Duane van der Berg (24) voeg by hulle is soos honde gehanteer.

Van der Berg meen: “Ons weet dit was nie ons plek nie, maar steeds: Mense treat ander mense mos nie só nie.

“Dit wys maar net hulle dink niks van ons nie. Hulle het niks dokumente gewys nie – níks in swart op wit nie.”

’n Woordvoerder van Prasa, Riana Scott, sê hulle behuisingsafdeling ondersoek die voorval en sal eers vandag terugvoer bied.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek die Stad se toepassing van dié by-law waarkragtens bergies nou so gejag word.

So sê die Wes-Kaapse kommissaris van die SAMRK, eerw. Chris Nissen.

Son het gister berig dat die Stad dié by-law weer afgestof het en bergies nou links en regs beboet daarvoor dat hulle op pavements slaap.

So asof die bergies dit kan bekostig om die boetes te betaal.

Nissen sê: “Ons sal die grondwetlikheid van dié by-law ondersoek. Dis ’n skending van die regte van haweloses.”

Die Stad se mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, stel voor Nissen ondersoek eerder eers die by-laws van die ANC-beheerde metro’s, aangesien hulle erger is.

Smith sê dis nodig dat hulle dié by-law moet afdwing oor toestande op die strate vererger het.

Smith sê: “Ons het shelters waarin ons haweloses huisves.

Regverdig

“Wanneer ons iemand beboet, is dit nadat ons hom of haar al honderde kere gewaarsku en ’n alternatiewe blyplek aangebied het.

“Van die NGO’s (maatskappye sonder winsbejag) stem saam dat haweloses nie op die strate hoort nie.

“Ongelukkig is nie alle beleid gewild nie, maar dis nietemin regverdig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters