28 dae gelede
KYK: Ongeluk ruk 2 tjommies weg
Nare toneel: Die ongeluk het talle lewens onherroeplik verander. FOTO’S VERSKAF  ~ 

ELSIESRIVIER se jeug is in rou gedompel nadat hulle twee tjommies in ’n ongeluk verloor het.

Wesley Adams (24) en Waydene Priga (17) is Sondagoggend dood nadat die taxi waarin hulle gery het in ’n kerkmuur geploeg het.

Hulle het saam met nog leerders van Waydene se skool, die Hoërskool Elsiesrivier, die skool se High School Jam by GrandWest Casino gevier.

Hulle is agterna na ’n afterparty en volgens hulle vriende het die twee die paartie op horings geneem.

Dis asof hulle geweet het dit sou hulle laaste wees.

Waydene se ma, Helena Baadjies, sê sy was besig om haar vir die kerk klaar te maak toe sy die slag hoor.

“Ek het gaan kyk wat aangaan en die pad was baie woelig. Iemand het aangekom en gesê die kinders was in ’n ongeluk.

“Hulle het gesê my kind was ook in die ongeluk.

“Van haar vriende het om die draai gekom en die een was vol bloed.

“Die een het gesê ek moet ’n kombers bring, want my kind is besig om aan haar bloed te verstik. Ek het skaars op die toneel aangekom, toe pass ek uit.

“Al wat ek kon sê, was ‘Waydene!’ Teen die tyd toe ek weer bygekom het, was Waydene al in die ambulans.

Verloor

“Toe ons by Tygerberg Hospitaal kom, was dit te vol en het die ambulance driver gesê hulle moet haar na Groote Schuur oorplaas.”

Baadjies sê by dié hospitaal het die dokter langer as vyf uur gespook om Way­dene aan die lewe te hou.

“Die dokter het haar drie keer verloor. Dit was halftwee toe die dokter my roep om die familie bymekaar te bring en tot siens te sê.”

Baadjies sê haar dogter het onlangs oor haar eie dood gepraat.

Staatmaker

Wesley se ma, Belinda Adams, is stukkend.

Adams sê sy het haar staatmaker verloor.

“Hy was altyd daar vir die jong mense. Hy het hulle altyd die regte pad gewys en dit met hulle geniet.

“Ek is vandag ’n trotse moeder.”

Wesley word Saterdag begrawe en Waydene Sondag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters