9 dae gelede
KYK: Nier sal haar weer kans gee
GROOT NOOD: Irma Titus het nou baie dringend ’n nieroorplanting nodig.  ~ Jonathan Lestrade

MET Kersfees om die draai en ’n rowwe jaar agter die rug, is ’n nuwe nier ál wat ’n Kaapse joernalis wil hê.

Die dokters het in haar kinderjare ’n nierkwaal by Irma Titus (34) van Bonteheuwel gediagnoseer.

In haar lewe is sy al deur vier nieroorplantings – net sodat sy soort van ’n normale lewe kan lei, sê sy.

Haar laaste nier het vir 13 jaar gehou. Nou is sy weer kliphard op soek na ’n nuwe skenker en is al die afgelope vyf jaar op dialise.

Afstaan

Titus, ’n gemeenskapswerker en joernalis, het aan Son vertel dit is moeilik om haar werk uit te voer weens haar swak gesondheid.

Sy moes haar laaste werk by ’n hoofstroom-koerant prysgee oor sy weekliks 18 uur aan dialise moet afstaan.

Titus vertel: “Dis ’n moeilike situasie en werksplekke verstaan nie disabilities wat nie visible is nie.

“Wanneer iemand in ’n rolstoel is, is dit makliker vir die persoon om verstaan te word. My disability is nie sigbaar nie en ek lyk nie asof ek siek is nie.

“Bel ek vandag die baas en sê ek kan nie kom werk nie, dink hy ek lieg.

“Ek kan die een dag papsiek wees en die volgende dag piekfyn, maar dis hoe my siekte is. Jy moet alewig toi-toi vir jou regte as jou disability onsigbaar is.”

Volgens Titus moes sy uiteindelik haar werk opgee oor die druk net te veel geword het.

Sy lewe tans op ’n Sassa-toelaag en verdien kommissie vir WiFi wat sy namens ’n maatskappy verkoop, sê sy.

“Die werk is soos ’n blessing.

“Ek kan met kliënte­ deal terwyl ek in die bed is en hoef nie ’n voet uit die huis te sit nie. Ek rig ook my huis in as ’n teater en opvoerings word dan hier uitgevoer.

HELP HAAR: Irma Titus bly steeds moedig en positief oor haar lewe. Foto: Jonathan Lestrade

“Op dié manier is ek steeds by my gemeenskapswerk betrokke en ek maak ook ’n ekstra geldjie.

“Al hierdie geld gaan op die ou einde reguit na my mediese fonds, wat maandeliks R3 000 kos.

“As ek dit nie betaal nie, kan ek nie my behandeling kry nie en ek kan ’n stroke kry, of my hart kan ingee.”

Aarde

Titus sê sy wil mense graag daarvan bewus maak dat hulle hul organe kan skenk wanneer hulle eendag sterf.

Hulle kan sodoende ’n lewe red.

Sy glo haar werk op aarde is nog nie klaar nie en dat God haar nog ’n kans gun.

Titus vra dat enige iemand in die tipe O- of A-bloedgroep wat dalk ’n geskikte kandidaat is, haar by 084 857 2372 kontak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters