3 maande gelede
KYK: Mayor vat ’n stappie in stad
Hoe gaan dit? Die mayor, Dan Plato, en sy gevolg praat met ’n bergie in Langstraat.  ~ 

DIE Kaapse mayor, Dan Plato, hou dik dat bergies gefine gaan word.

Plato en die Stad Kaapstad se direkteur van wetstoepassing, Robbie Roberts, het Woensdagaand deur die Kaapse middestad gestap om te sien wat aangaan.

Die mayor en sy gevolg het hotspots soos Langstraat en Loopstraat besoek en met die bergies gepraat.

Teister

In hulle gesprekke het hulle hulp aangebied in die vorm van blyplek by een van die Stad se shelters.

Die keuse om hulle na hulle huise terug te vervoer, is ook aangebied.

Alain Vilakazi, restauranteienaar in Langstraat, kla die bergies teister sy customers.

Vilakazi het vir Plato gesê dinge raak veral erg oor naweke wanneer toeriste in sy restaurant kom eet.

Hy sê: “As die toeriste uit hulle bus of kombi klim, sak ’n groep haweloses op hulle toe en bedel by hulle.

“Die haweloses klop ook aan die glasdeure terwyl die toeriste binne sit en eet. Dis baie bad.

“Dan is daar pickpockets. Elke aand oor ’n naweek sien ons tussen 10 en 15 mense wat voor ons restaurant beroof word.”

Varke

Hy sê meer polisiesigbaarheid is nodig, veral in Langstraat, wat ’n gewilde uithangplek is. Tog glo Vilakazi nie boetes vir bergies is ’n antwoord nie.

“Waar kry hulle (bergies) die geld?” wil hy weet.

Plato hou vol die fines is wettig en dit sal voortgaan.

“Ons kan nie toelaat dat ons eie mense voortgaan om soos varke te bly nie,” sê hy.

“Daar is meer as genoeg plek by ons shelters. Maar die meeste van die haweloses verkies om op straat te bly, want daar is geld hier.

“En dís waar ons die probleem kry, want sommige van hulle is aggressiewe bedelaars en daar is ’n probleem van pickpocketing waar hulle is.

“Sommige van hulle gebruik die straat as ’n toilet.

“Dis alles dinge wat nie goed is nie, veral vir die toestand van die middestad, toerisme en besighede.

“Ons kan nie toelaat dat ons middestad soos die ander middestede landwyd vergaan nie.”

Son het laas week baie berig oor die Stad se besluit om haweloses te beboet as hulle op die sypaadjies slaap. Die beleid het skokgolwe deur die Kaap gestuur.

Plato sê egter die fines is nie bedoel om die bergies te teister nie. Hy sê die Stad se beleid is in ooreenstemming met die land se wette.

Hy verduidelik: “Ek kan nie die drama rondom die kwessie van die fines verstaan nie.

“As hawelose mense die ons munisipale wette oortree, hoekom mag ons hulle nie fines gee nie?

“Die doel van die fines is om hulle te profile. Om vir hulle hulp te gee.

“Dis nie om vir hulle te sê hulle moet binne 48 uur die middestad verlaat nie.

“Ons kry verskriklik baie goeie terugvoer dat ons besig is om die middestad skoner te maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters