13 dae gelede
KYK: Matriekbal is onvergeetlik
MAN VANNIE OOMBLIK: Raeez Bernard (17) strike ’n pose tussen sy vrinne.  ~ Jonathan Lestrade

SY HELE lewe lank het hy net hartseer en teleurstelling geken.

Hy het altyd blymoedig gebly en nooit dat dit hom onderkry nie.

Dis hoekom ’n hele gemeenskap bymekaargekom het om dié selfstandige klong van Mitchells Plain se matriekafskeid vir hom onvergeetlik te maak.

Leef

Inwoners beskryf hom as iemand wat altyd gereed is om jou uit te help. As iemand wat nooit kla nie.

Ook as een wat weet hoe om elke dag aangryp en lééf.

Siberianstraat in Rocklands het Donderdagmiddag tot stilstand gekom toe Raeez Bernard (17) vir die eerste keer in sy lewe uitgevat soos ’n nat kat in ’n suit uitgestap het.

Bernard is in ’n Son-kompetisie as ’n finalis gekies om sy droomdag ’n realiteit te maak.

Wat die judges se harte sag gemaak het, was toe Bernard oor sy lewe begin praat.

Hy verduidelik: “My ma was ’n alkoholis en my pa het drugs gebruik en was ’n gangster. Hulle is ’n jaar uitmekaar uit dood.

“My ouma, wat my alles was, het ’n jaar ná daai afgesterf.

“So, alles het soos ’n groot brand oor my gekom.”

Maar selfs dít het nie die matriekleerder van die Hoër­skool Rocklands gekeer om bo uit te kom nie.

Hy vertel: “Daar is baie tieners wat in daai cycle sal val, maar dit was ’n eye-opener vir my. Ek wou nie soos my ouers opeindig nie.

“Ek wou vir my broertjie lewe, om ’n voorbeeld vir hom te wees, om te wys dat jy nie altyd jou omstandighede kan blameer vir jou keuses nie.”

Bernard sê met trane in sy oë: “Tot twee weke gelede het ek nie eens geweet dat ek matriekbal toe gaan nie.

“Ek was gereed om by die huis te sit en ’n normale dag te het.”

Bernard se grootmaak-pa, Christopher Isaacs, meen Bernard het die geleentheid verdien.

“As daar een ding is wat Raeez is, is dit gehoorsaam.

“Ek het nooit probleme saam hom nie en weet hoe belangrik dié dag vir kinders is.

Verlig

“Toe hy gr. 11 geslaag het, het ek en my vrou, Sharlene, al om finansiële redes begin stres oor die matriekbal.”

Maar die gesin se stres is gou verlig toe hulle sien op hoeveel mense se lewe die seun se lewensverhaal ’n impak gehad het.

Raeez wil graag volgende jaar IT gaan studeer.

Son wil graag dankie sê vir die inwoners, die Cape Polo Squad, Zanzibar Hair Salon, Smart Men Suit Hire en die River of Life-kerk, wat almal ’n rol in sy spesiale dag gespeel het.

Aan Raeez sê almal: “Dis jou tyd! Dis jou gelukkige tyd. Vat dit en geniet dit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters