15 dae gelede
KYK: ‘Mans by pub skop, slaan my’
SLAGOFFER: Shaun Africa sê hy is dié naweek by ’n restaurant in Gordonsbaai aangerand.  ~ Jonathan Lestrade

DIE een oomblik het hy ’n lekker tyd gehad – en die volgende is hy in die diepte gegooi.

Só beskryf Shaun Africa wat met hom gebeur het toe hy Saterdag na bewering by die Bachelors Restaurant in Gordonsbaai aangerand is.

“Ek is ontsteld dat niemand rêrig tot my redding gekom het nie. Meeste het net gekyk,” sê hy.

Africa sê hy en ’n vriend het na die pub gegaan en hy het by die bar ingegaan om drankies en kos te bestel.

“My vriend het buite gewag terwyl ek binne was. Ek het betaal en weer uitgegaan.

“My vriend het op die bank gesit en ek het hom gejoin,” vertel Africa.

Hy sê kort daarna het ’n vrou wat aan hulle onbekend was met sy vriend begin praat.

“Ek kon sien hy was geïrriteerd en het aan my gesê dat sy rassisties teenoor hom is. Hy het aan haar gesê dat hy nie belangstel in wat sy te sê het nie.

Ondervra

“Ek het haar gevra of ek by die tafel kan sit en sy het ja gesê, maar dat my vriend nie mag nie. Sy het ná ’n tydjie opgewerk geword en haar vriende het haar kalmeer.

“My vriend het toe opgestaan en gaan rook en ek het nog gesit.

“Ons is toe ondervra deur ’n groep mans wat ons gevra het waarom ons by haar tafel sit,” sê hy.

Africa sê hy het nie van die tafel af wegbeweeg nie en die groep mans het hom omring.

“Ek het hulle geïgnoreer en nie hulle vrae beantwoord nie. Die volgende oomblik het iemand my net geslaan en ek is toe rondgeruk en opgelig by die tafel,” sê hy.

Africa sê hy moes sy gesig blok om homself te beskerm.

“Ek het vir hulle gesê ons het nie hiernatoe gekom vir dít nie. Ek het toe opgestaan nadat ek geskop en getrap is en het na my kar gehardloop en ons het polisiestasie toe gegaan,” sê hy.

Hy het tydens die beweerde aanval ook sy sonbril verloor, asook ’n hoverboard.

TONEEL: Die restaurant in Gordonsbaai waar Africa na bewering deur ’n groep mans aangerand is. Foto: Jonathan Lestrade

Africa sê hy wil rêrig mense daarvan bewus maak dat ons in die nuwe Suid-Afrika nie geweld moet gebruik om enige iets op te los nie.

“Ons weet nie wat ons verskeie agtergronde behels nie. Ons het almal ons eie opinies, maar om geweld te gebruik is nie reg nie,” sê hy.

Africa sê niemand van die restaurant het enige iets gesê oor die voorval nie.

Son het kontak gemaak met die bestuurder van die pub, maar dié het verkies om nie kommentaar te gee nie.

Kaptein FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n saak van algemene aanranding is by die Gordonsbaai-polisiestasie geregistreer vir ondersoek.

Onbekend

Luidens berigte het die voorval omstreeks 18:00 op Saterdag 3 Oktober plaasgevind.

“Die verdagtes is in hierdie stadium onbekend en die ondersoek duur voort,” sê Van Wyk.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters