Verlede maand
KYK: Ma wil sterf oor moord
SEER: Evan Andrews sê hy voel baie kwaad en wil wraak neem, maar weet dit gaan nie sy broer terugbring nie.  ~ Jonathan Lestrade

SY DRA die pyn van die verlies aan haar seun in haar oë.

Haar glimlag trek onderstebo.

Sy vryf haar hande teen mekaar asof sy die pyn wat sy deur haar hele lyf voel, wil wegvryf.

Dit voel asof haar hele lewe omgekeer is en sy wil nie meer lewe nie.

Die gemis is so groot dat sy, hoewel sy nie kan swem nie, in haar werkgewer se swembad wil spring ...

Só voel ’n gebroke Ann Andrews (63) van Delft nadat sy haar seun verloor het.

Vir haar is die swaarste pyn wat enige ouer kan dra, om hul kind te verloor en nog meer so as daardie kind wreedaardig vermoor is.

Die ma sê sy weet nie waar om te draai vir hulp nie.

Sy is hopeloos en het baie vrae oor wat met haar vermoorde kind, Franklin Andrews, gebeur het.

Hy was maar net 26 jaar oud toe hy volgens sy ma in September in Elsiesrivier vermoor is.

Kuier

Dis maande later en die mammie is steeds in skok oor sy skielike dood en kry nie closure nie.

Franklin is volgens sy ma en oudste broer, Evan, op 6 September vermoor.

Die ma sê daardie dag het haar seun vir haar gesê hy gaan met vriende na sy een vriend se ouma se huis toe waar hulle gaan kuier.

Die oggend is sy weg werk toe en haar laaste woorde aan hom en haar ander kinders was dat sy hulle lief het.

“Terwyl ek by die werk was, kry ek so ’n gevoel en het hom in die hande probeer kry, maar sy foon was af.

“Ek het dit gelos, maar toe ek later die dag by die huis kom, vra ek my man, Frank, waar die kinders is.

“Frank het vir my gesê Franklin is nog nie terug nie,” sê sy.

Ann sê sy het hom aan­mekaar probeer bel, maar sy foon was steeds af.

Omstreeks 22:00 was daar ’n klop aan haar deur wat haar lewe heeltemal deurmekaargegooi het.

GELIEFDE SEUN: ’n Gebroke mamma, Ann Andrews, het ’n brief aan haar seun se moordenaar/s geskryf. Foto’s: Jonathan Lestrade

Iemand het die gesin meegedeel dat Franklin geskiet is en haar man het hom na die toneel gehaas.

“Toe my man daar kom, was Franklin reeds dood.

“Sy vriende het later allerhande stories kom vertel, maar niemand kan sê wat werklik met hom gebeur het nie.

“Ek is baie hartseer.

“Ek is lief vir al my kinders, maar Franklin was die een wat alles vir my gedoen het.

“Hy was net drie dae in sy nuwe werk toe dit gebeur.

“Hy het drome gehad om my en sy pa op ’n vakansie te neem. Nou is al daai drome ook dood,” sê sy.

Evan sê hy is ook baie hartseer oor die verlies van sy broer.

“Hy was my ma se babaseun. Ek voel ek wil wraak neem, maar ek weet dit gaan niks verander nie.

“Ons soek net antwoorde. Ons benodig dit vir closure,” voeg hy by.

Selfmoord

Die hartseer mamma sê sy het besluit om haar ge­voelens neer te skryf.

Sy het ’n brief geskryf aan haar kind se moordenaar/s om hulle te laat weet hoe haar hart pyn.

“Ek kan nie meer die pyn hanteer nie. Daar is dae dat ek dink aan selfmoord pleeg.

“My hart is stukkend,” sê sy droewig.

  • Die volledige video van Ann Andrews wat die brief lees, sal binnekort op Son se Facebook- en webblad beskikbaar wees.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters