20 dae gelede
KYK: Luisgatte laat wiel met stoel
hoe nou? Edwin Adonis (37) sit gister in Perdekloofstraat in Wesbank plat op die aarde nadat sy rolstoel gesteel is.Foto’s: ABRIE BURGER  ~ 

WESBANK se laities rol nie reg nie.

Twee of drie jong klongens het gister ’n hawelose, gestremde man se rolstoel gesteel.

Volgens Edwin Adonis, oorspronklik van Moorreesburg, het hy lekker in sy rolstoel gesit en slaap. Toe hy later wakker skrik, toe lê hy op die sypaadjie in Ouplaassingel.

Die 37-jarige het toe ’n paar meter ver na Perdekloofstraat gekruip om by ’n gemeenskapsleier te gaan hulp soek.

Adonis sê dis nie die eerste keer dat dié ongevoelige ding met hom gebeur nie.

Hy vertel: “Dis die derde keer dat dit gebeur.

“Dié keer het ek nog geslaap, toe dra hulle my en sit my op die grond neer.

“Hulle los my net daar. Hulle is weg met die rolstoel. Ek weet nie wie dit is nie.

“Dis baie seer. Ek is baie hartseer. Ek het niks aan hulle gedoen nie. Ek het nie eens ’n blyplek nie.

“Waar gaan ek nou ’n ander rolstoel kry? My familie is in Moorreesburg, maar hulle wil my nie daar hê nie. Ek het nie familie hier in die Kaap nie.”

Die gemeenskapsleier Ricar­do le Roux sê dis onaanvaarbaar dat Adonis vir die hoeveelste keer moet suffer.

Le Roux sê: “Ouers moet hulle kinders reg leer. Dis die derde keer dat dié man dié ding oorkom.

“Dis mos nie reg om ’n gestremde man só te behandel nie. Dié man kan nie eens homself voed nie.

“Wanneer hy iets drink, moet iemand hom help om die beker vas te hou.

“Dis youngsters wat dit aan hom gedoen het. Die laaste keer dat dit gebeur het, het ons gehelp soek.

“Ons het die rolstoel gekry, want hy het destyds gesien wie dit gevat het, maar die kwaaddoeners is nie vervolg nie.”

Bernice Brown, ’n ontstoke inwoner, sê sy kan nie glo Adonis se wheelchair is alweer gesteel nie.

Brown (49) sê: “Dit was nie nodig om die rolstoel te steel nie. Die man het nie baie besittings nie.

“Nou is hy sy rolstoel kwyt. Die laaste keer dat dit gebeur het, toe seil hy op die nat grond.

“Ek het hom ander klere gegee, want sy eie was sopnat van heeltyd oor die grond seil. Nou het dit weer gebeur. Mense wil ook nie regkom nie.

“Hoe doen ’n mens só ’n hartelose ding aan ’n ander mens?

“Ek kan nie glo hulle het weer sy rolstoel gevat nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters