28 dae gelede
KYK: Leo ‘verenig gemeenskap’
GEBROKE: Ma Lucille Williams kry ondersteuning van haar familie en vriende op die pynlike dag.  ~ Jonathan Lestrade

“DIE gemeenskap is hier om hom huis toe te neem.

“Leo het gesterf sodat die gemeenskap se oë oop kan gaan.”

Dié woorde is Saterdag ge­uiter toe begrafnisgangers van die negejarige Leo Williams afskeid geneem het.

Die seuntjie is in sy tuisdorp, Laingville in St. Helenabaai, ter ruste gelê.

Leo se stryd het op 17 Augustus tot ’n einde gekom ná sowat drie weke op life support.

Die jong seuntjie is na bewering deur lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in die kop gewond toe hulle gedurende ’n optog op inwoners losgebrand het.

Die begrafnisdiens het by ’n huis begin waar Leo se pleegma, Cathy Thomas, sy ma, Lucille Williams, sy skoolvriende en inwoners bymekaar gekom het.

Lucille kon haar emosies nie contain nie en het kliphard gehuil.

Sy is deur familie en vriende ondersteun. Die mense het daarna na die gemeenskapsaal beweeg vir die diens.

Die saal was in geel en groen versier. Leo se wit-en-goue kissie is deur sy onderwysers ingebring terwyl sy skoolmaatjies by die ingang gestaan het.

Past. Leo dos Santos het gesê Leo het ’n revival in die nasie begin.

Hy het aan Thomas gesê sy het ’n warrior en held grootgemaak.

“Hy het sy lewe opgeoffer; sy dood het lewe in Laingville gebring. Leo se dood was net nóg ’n seuntjie wat geskiet is, maar vandag word hy as ’n held beskou.

Voorbereid

“Hy het ’n gemeenskap saamgebring. Sy lewe en dood het duisende lewens geraak en gaan die gemeenskap se storie verander.”

LAASTE EER: Leo se kis word by die saal ingedra. Foto: Jonathan Lestrade

Thomas het voorheen aan Son gesê sy was voorbereid op die ergste nadat die dokters vir haar gesê het daar is nie hoop nie.

Sy sê: “Ek het nie eintlik seer gevoel oor Leo se dood nie, maar ek was eerder bekommerd oor sy ouers. Ek offer hom terug aan die Here, want hy is baie seergemaak.”

Onder die rouklaers was Chris Nissen van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

“Dis baie goed om te sien hoe ’n gemeenskap saamkom. Hoe hulle unite in ondersteuning vir die familie.

“Dit is belangrik dat die gemeenskap ook hulle stemme laat hoor deur te sê ‘genoeg is genoeg’.

“Geregtigheid moet geskied en dit is waarom ek dié week met Opod vergader het. Ons hoop om aksie te sien,” sê Nissen.

VOORBEREID: Cathy Thomas, Leo se pleegma, lê saam met haar gemeenskap en familie vir Leo ter ruste. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters