15 dae gelede
KYK: Lekker lewe net vir apies
Vies: Claudene Booysen moes Dinsdag in die hof gaan staan om Ethan weer terug te kry. Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

DIE ape van ’n plaas in Joostenbergvlakte het ’n baie beter lewe as die mense wat hulle moet voer en skoonmaak.

Dít het Claudene Booysen (22), ’n ma van Leeu-Gamka, gou besef toe sy verlede jaar met ’n taxi op die plaas Van Zyl’s Rus afgelaai is.

“Die plaaseienaars het vir die taxi betaal. Die plek waar ons geslaap het, was vuil en morsig. Mans en vroue het ’n bungalow op die perseel gedeel.”

Booysen sê hulle werk was om die ape te voer en hulle hokke skoon te hou. Hulle het die baba-apies met bottels gevoer en vir hulle nappies aangesit.

Sy sê ná die eerste maand terug huis toe gegaan.

“Dit was nie vir my nie. My seun, Ethan, was toe maar ’n paar maande oud.”

Sy sê die eienaar van die plaas, Cornelia van Zyl, het haar vanjaar weer gebel en gevra of sy nie weer op die plaas wil kom werk nie.

“Ek het ingestem, want ek het die geld nodig gehad. My kind se pa is afgesterf.”

Gevloek

Sy sê die omstandighede was steeds haglik en die pay min.

“Ons het R2 000 gekry. Jy werk van 07:00 tot 18:00 en van 20:00 tot 23:30.

“Daar’s ook ’n uur lunch, maar soms kan jy nie eens klaar eet nie, dan word op jou gevloek.”

Van Zyl het haar ook al vantevore ’n helse klap gegee, vertel Booysen.

“Dit was my af weekend en ek het Saterdagmiddag uitgegaan. My niggie wat op die plaas werk, sou na Ethan kyk.

“Sondagmiddag het my niggie my gebel en gesê die baas het my kind kom vat en polisie toe geneem.”

Booysen vertel sy moes eers Dinsdag in die hof verskyn om Ethan terug te kry.

Van Zyl sê hulle is ’n safe haven vir verwaarloosde ape.

Drinkery

Sy erken dat sy vir Booysen geklap het, maar sê dis oor Booysen gereeld naweke verdwyn om te gaan drink.

Sy sê Ethan het as gevolg van Booysen se drinkery in ’n huis van veiligheid beland.

“Sy het nie haar kind by haar niggie gelos nie, maar die kind net hier gelaat.

“Daar was ’n stryery onder die meisies oor wie na die kind moet kyk.

“Dit is toe dat ek besluit het om die kind na die polisie toe te neem, want wie moes na die kind kyk?”

Sy sê ook as Booysen ontevrede was oor haar werksomstandighede, moes sy haar klagte na die CCMA of die arbeidshof toe geneem het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters