27 dae gelede
KYK: Getraumatiseer
SEERGEMAAK: Riyaaz Forbes sê hy vertrou nou nie meer die polisie nie.  ~ Jonathan Lestrade

’N TIENERLAITIE van Plumstead het alle vertroue in die polisie verloor nadat ’n vuurwapen op hom gerig en hy twee keer in die maag geskop is deur lede van die Dieprivier-polisie.

Die 15-jarige Ri­yaaz Forbes wou maar net gaan kyk hoekom sy tjommie so lank vat by die winkel toe hy na bewering deur polisieamptenare aangerand is.

Die voorval het 20:00 op 12 September in Plumstead plaasgevind.

Riyaaz se vriend het winkel toe gegaan vir hom, maar omdat hy so lank geneem het, het Riyaaz sy tjommie gaan soek.

“Ek het winkel toe gegaan en my vriend was nie daar nie, maar toe sien ek hom in die parkie. Dis tóé dat ek besluit het om oor te hardloop na hom toe.

“Soos ek hardloop, hoor ek ’n kar agter my en toe ek kyk, was dit die polisie.

Hulle het vir my gesê ek moet op die grond lê en een van die drie beamptes het my twee keer in my maag geskop en ’n vuurwapen op my gerig,” vertel hy.

Riyaaz sê hy het om hulp uitgeroep en die bure het uitgekom en iemand het sy ma laat weet wat aangaan.

“Ek het nie geweet wat ek verkeerd gedoen het nie en is nooit kans gegee om te vra wat aangaan nie.

“Voordat hulle vir my in die polisiewa gesit het, het een van hulle gestap tot waar ek voorheen gestaan het en aan my gesê hulle het dwelms gevind, maar hulle het dit nooit aan my gewys nie,” sê hy.

By die polisiestasie, sê Riyaaz, het die polisie met hom en sy ma gepraat en gesê hulle het ’n fout gemaak en hulle is jammer.

Sy ma, Rukshana Forbes, sê polisie is daar om mense te beskerm en dien en voel wat hulle aan haar seun gedoen het, is allesbehalwe dít.

“Hulle het hom beskuldig van dwelms en dat hy ’n druggie is en dan wil hulle later sê dat hulle ’n fout gemaak het en dat dit ’n misunderstanding is,” sê sy.

TELEURGESTELD: Rukshana Forbes sê die polisie het haar seun nie beskerm nie en eerder getraumatiseer. Foto: Jonathan Lestrade

Rukshana sê sy voel baie teleurgesteld in die polisie en hoe hulle haar tienerseun behandel het.

“Ek wil nie ’n sorry hê nie. Daar moet aksie geneem word teen hulle. Hulle het ál my kinders getraumatiseer met hulle optrede,” het sy gal gebraak.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van algemene aanranding by die Wynberg-polisiestasie geregistreer en na die Dieprivier-polisie­stasie oorgeplaas is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters