25 dae gelede
KYK: Gemeenskap doen sy deel
OUERSMART: Chesco Walker en Alvina Herringer moet met hul jong seun se tragiese dood deal.  ~ Jonathan Lestrade

OUD en jonk het Dinsdagaand se koue trotseer en ’n roudiens vir die vyfjarige Chesray Herringer in Valhalla Park gehou.

’n Vermeende hijacker het die kleuter verlede week omgery. Hy is op die toneel dood.

Die tragedie het omstreeks 15:00 op Woensdag 26 Augustus reg voor Chesray se huis in Angela­straat, Valhalla Park, afgespeel.

Sy roudiens Dinsdag is op die einste toneel gehou. Daar het die gemeenskap sy familie met woorde en sang getroos.

Steven October, ’n plaaslike kerkleier, vertel dis ’n jong lewe wat kortgeknip is.

“Vir die gemeenskap is dít wat gebeur het baie hartseer.”

Hy het die familie verder bemoedig: “Ek het nie woorde vir julle nie omdat ek nie daar was nie. Maar ek weet van Hom wat julle verlede, huidige tyd en toekoms ken. Hy ken ook jul harte.”

’n Gemeenskapsleier, Bradley Leitch, het ook die familie probeer bemoedig deur te sê wat God doen, is welgedaan.

“Ek is hartseer van binne. Ek kan nie skreeu nie. Ek kan net praat en aan elke moeder en ouer sê, maak jou saak reg.

“Wat gebeur het, het ons gemeenskap saamgesnoer. Laat ons nie weg van mekaar lewe nie.”

Ander mense het ook die geleentheid gebruik om Chesray se ouers te bemoedig. Hulle het aan hulle en ander ouers gesê om hul kinders op te pas.

Reggemaak

Ene suster Georgina het aan hulle gesê dat die gemeenskap saam met hulle ween, sowel as ál die hartseer ouers wat ook kinders verloor het.

“Ek is bly dat julle jul hart reggemaak het met die Here.

“Ek weet dit is nie maklik nie, maar weet ons is hier saam met julle,” het die suster haar bemoedigende woorde gespreek.

Chesray se ouers, Alvina Herringer en Chesco Walker het die bemoediging van die gemeenskap verwelkom en saam met hulle gebid en gesing.

Chesray word vandag begrawe.

ALMAL SAAM: Oud en jonk is daar vir die gedenkdiens. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters