4 maande gelede
KYK: ‘Gee dan ander blyplek’
soek antwoorde: Dié vrou wil weet waar moet sy R1 500 kry om ’n boete te betaal.FOTO verskaf  ~ 

LANGER as 20 jaar al is sy ’n prossie in die Kaapse middestad se strate.

Dis die lot van ’n hawelose vrou wat binnekort 40 word.

Son het vandeesweek berig die Stad Kaapstad beboet nou bergies vir op die sypaadjie slaap en as hulle vuur maak op openbare plekke.

Die vrou, wat anoniem wil bly, sê sy het op 12 op straat begin woon omdat niemand na haar omgesien het nie.

Sy het gesê: “Ek het nie ’n mommy of daddy of ’n huis wat ek my tuiste kan noem nie.

“Toe ek 17 jaar oud was, was ek in ’n horrible accident­ betrokke.

“Ek het sonder enigeen se hulp oorleef.

Verdien

“Ek raak op 20 Julie 40 jaar oud, sonder ’n ID. Nou wil die Stad Kaapstad alle haweloses met R1 500 beboet.

“Waar op aarde kry ek daai bedrag? Ek is al langer as 20 jaar ’n prostituut, meestal omdat ek nêrens het om te gaan nie.”

Volgens haar verdien sy egter nou ’n inkomste as ’n parking attendant.

“Ek belowe jou daar is baie inbrekers, maar ek hou die voertuie safe – nag en dag.

“Moet ek nou teruggaan na prostitusie en my klante van hulle swaar verdiende geld beroof net sodat ek die Stad Kaapstad se fines kan betaal?”

Peter Marais van die Vryheidsfont Plus meen die Stad het ’n verpligting om vir haweloses te sorg.

Marais het gesê die mayco-lid belas met veiligheid en sekuriteit, JP Smith, moet bedank as hy nie sy werk kan doen nie.

Hy het gesê: “Dis waarvoor die Stad is.

“Die Stad moet sorg dat die mense kos het. En dat die mense beskerm word.

“En ek dink dat as hulle die mense verwyder, moet hulle ’n oplossing het vir die probleem en die mense verwys na geskikte plekke.”

Hy het bygevoeg jy kan nie mense sonder heen­kome rondjaag van een plek na die ander nie.

“My hart gaan uit vir daai mense, veral in dié bitter koue. Maak dan voorsiening vir waarheen die mense moet gaan.”

Smith hou vol die ANC mislei die publiek deur te sê die by-law waarvolgens haweloses beboet word, is nuut. Hy het gesê dit bestaan al vir langer as tien jaar en die ANC het erger by-laws by munisipaliteite waar hy regeer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters