10 dae gelede
KYK: Gangetjie ’n kopseer
GATVOL: Jan Ruiters (regs voor) sê die gevaarlike gang moet vir die inwoners se veiligheid toegemaak word.  ~ Jonathan Lestrade

“ONS slaap nie in die aande nie. Daar is al petrolbomme gegooi en my vensters is uitgegooi.”

Só kla Sabina Zana wat die afgelope sewe jaar in Scottsdene woon.

Zana woon langs ’n deurloopgang wat sy en ander inwoners as ’n nagmerrie beskryf.

Zana sê hulle is nou mooi gatvol en wil hê die raad moet die gang kom toemaak sodat hulle in vrede kan leef.

“Ons lewe in vrees. Ons kan nie eens oor naweke slaap nie omdat ons nie weet wanneer daar weer in die gang geskiet gaan word nie,” vertel sy.

Die deurloopgang waarvan sy praat, is reg oorkant ’n kerk in Carmenstraat. Vermeende bendelede gebruik dié gang om by hul rival bendelede uit te kom en op mekaar te skiet.

“Mense word in die gang beroof en daar is al ’n jong meisie verkrag,” vertel sy.

Zana sê hulle vra al sedert sy daar ingetrek het dat die raad dit kom toemaak sodat daar nie ’n roete is vir bendes om deur te loop of mense seer te maak nie.

“Die progress om dit toe te maak, is baie stadig. Ons kry nie terugvoer nie,” kla sy.

Jan Ruiters, ook ’n in­woner, sê hy het al met die vermeende bendelede gesels en hulle gevra om die kerk en die inwoners te respekteer.

“Hulle luister nie. Ons weet nie waar om te draai nie. Ons bly in vrees en wil hê hulle moet dit toemaak vir veiligheid,” sê Ruiters.

ONVEILIG: ’n Groep jong kinders speel in die gang wat na bewering deur vermeende bendelede gebruik word. Foto: Jonathan Lestrade

Rdl. Grant Twigg sê hy weet van die probleem en die klagtes daaroor.

“Dis nie die eerste keer dat hulle vra dat die gang toegemaak moet word nie.

“Ek het al vir die mense wat langs die gang bly, gesê hulle moet aansoek doen om hul jaart te extend, want dan val die gang weg.

“As ons egter ’n draad of hek oprig, gaan die jongens dit net elke keer afbreek, want niemand sal verantwoordelikheid neem vir die draad of hek nie.

Werk

“Ons het dit al by verskeie ander gangetjies in die area gesien,” verduidelik Twigg.

“Hulle kan vir my die aansoek deurstuur en ek kan dit vir die official gee om deur te werk.

“Hulle kan ook na die Kraaifontein-munisipaliteit gaan,” sê hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters