8 dae gelede
KYK: Flat bly voos
STUKKEND: Johana Griffiths wys die plek in haar sitkamer waar ’n sterk wind onlangs ’n venster uitgeblaas het.  ~ Jonathan Lestrade

“HULLE weet van jou. Jy is in die system.”

Dít is die refrein wat Johana Griffiths (63) al die afgelope sewe jaar hoor elke keer as sy navraag doen by die rent office in haar gemeenskap oor die probleme wat sy met haar council flat ervaar.

Griffiths en haar man, Joseph (61), woon al 28 jaar in Hermonhof in Clarke Estate. Hulle is albei pensioentrekkers.

“Ek loop al sedert 2013 op en af rent office toe en vra dat die deure reggemaak word, en die water wat so van die dak af op my kragboks lek en die kragprop wat so spark.

“Maar hulle stuur my liewer op en af na Uitsig toe of Bishop Lavis toe,” kla sy.

Griffiths sê die Stad Kaapstad het haar ook al vele kere vertel die materiaal om die goed reg te maak, moet nog kom – of dit het verdwyn.

“Ek wil net hê hulle moet kom en die goed regmaak. Ek is bang iets sal gebeur omdat die water oor die kragboks hardloop,” sê sy.

’n Maand gelede het die wind so sterk gewaai dat ’n venster in die sitkamer heeltemal uitgeruk is.

“Daar was klaar ’n probleem met die venster en ek het dit voorheen gaan rapporteer, maar hulle sê net hulle kom, maar niemand kom nie,” sê sy.

Papiere

Griffiths sê die rent office het haar vertel hulle kan nie aan die venster werk nie; net die vensters voor in die flat is onlangs vervang.

“Ek verstaan nie dit nie. Ek is al moeg geloop en van die papiere het al weggeraak. Ons is al 28 jaar hier en die probleme kom al lank aan. Dit is nie nuut nie.

“Die krane in die bad­kamer is so styf dat ons sukkel om dit oop te maak.

“Die stopkraan vir die toilet lek ook al jare. Die deure was ook ’n probleem destyds toe ons ingetrek het. Ons is nou moeg en wil graag net hê hulle moet kom regmaak,” pleit sy.

Sy voeg by die dak is ook ’n probleem nadat werkers plate op die dak kom sit het omdat die dak lek, maar die plate is steeds los.

“Ons kan nie slaap nie. Daai plate klap op en af as die wind net ’n bietjie waai,” kla sy.

Regering

Joseph sê hulle weet nie meer waarheen om te draai vir hulp nie.

“Dit is verkeerd dat ons al die jare so moet sukkel om hulp te kry.

“Ons is pensioners. Ons vra nie vir ’n plat huis nie; ons vra net dat die regering na ons ook kyk,” sê hy.

Sy vrou voeg by hulle voel vergete.

“Hulle maak promises en dit kom net nie. Ek voel die raad fail ons. Ek kan nie meer op en af loop nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters