Verlede maand
KYK: ‘Ek sal hulle doodskiet’
AANGERAND: Frederick Europa van Lavender Hill beweer die cops het hom aangerand. FOTO’S VERSKAF  ~ 

HY noem homself “Fast Gun”.

Frederick Europa (30), ’n uitgesproke en onbeskaamde gangster, is bitter.

Bitter vir die anti-gang unit.

Europa vertel dat hy ’n moerse loesing gekry het wat sy agterent en rug pimpel en pers gelos het.

Europa bly in Lavender Hill, in Chapelstraat – die hot spot waar die “Fast Guns” uithang.

Europa sê oor dié loesing: “Ek sweer op my ma se lewe, ek sal hulle doodskiet.

“Nie vir die gangsters nie, maar ek sal op hulle mik.

“Soos ek nou voel, gee ek nie om nie. Hulle treat ons nie soos mense nie.

“Hulle vat die wet in hulle eie hande. Slaan ons met grawe, pale, draad en sambokke.

“My rug was vol blou kolle geslaan, en ek het ook ’n hou op my kop gekry.

“Een van die gattas het my met die agterkant van die graaf oor die kop geslaan.”

Volgens Europa is hy ’n Fast Gun en rol hulle en die Mongrels mekaar.

Europa beweer die cops het daai dag van sy pak slae, niks in die huis gekry nie. Maar hulle het wel ’n gun in die hok agter in die jaart gekry.

Volgens nog ’n inwoner van Lavender Hill, bekend as ene Bird, het die cops hulle na ’n bouvallige huis by die Italy-veld geneem.

Bird is egter chicken en wil nie vir ’n foto staan nie.

Klopjagte

Bird sê: “Hulle het my skoene uitgetrek en wou my tone met ’n bolt cutter afknip.

“Hulle het my onderste-bo laat hang oor ek nie vir hulle info wou gee oor waar die gangsters se guns is nie.”

Shirley Nel, ’n inwoner van Lavender Hill sê: “Die manier hoe hulle die mense slaan en hanteer, is mos nie reg nie. Hulle soek info oor guns en as die mense nie vir hulle gee nie, dan word hulle aangerand.

“Dit is nie die manier om die gemeenskap se vertroue te wen nie. Dit maak hulle net aggressief en volgende keer skiet hulle op die cops.”

Volgens lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het hulle in Ravens­mead en Lavender Hill klopjagte uitgevoer.

Drie vroue is in dié operasies gearresteer vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

In Lavender Hill is ’n 22-jarige vrou deur die anti-bende-eenheid in Chapel Road met ’n onwettige vuurwapen gekry en ook 60 patrone.

In Ravensmead is twee vroue van 28 en 43-jaar oud met vuurwapens betrap.

Daar was ammunisie, 1 208 Mandrax-pille en amper 1 kg tik in hulle besit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters