22 dae gelede
KYK: Duisende daag op, try vir job
SWEET VIR WERK: Kandidate draf die 2,4 km.  ~ 

DUISENDE desperate jong mense was gister bereid om bloed te sweet vir ’n job.

Die Stad Kaapstad het 120 jobs aangebied.

En ’n Allemintige 12 335 kandidate het aansoek gedoen vir die leerlingskapprogram in die verkeersdiens en metro­polisie.

JP Smith, die Stad se mayco-lid vir veiligheid, het gesê: “Die kandidate moet bewys hulle kan die basiese funksies verrig om die job te kan doen.”

Kandidate het al van vroegoggend af in lang rye by die Ndabeni-fasiliteit gestaan vir die fisieke assessering vir ’n job as spietkop of metro cop.

Vir die fiksheidstoets het mans en vroue opgedaag in sweetpakke en tekkies en met bottels water soos wafferse gym bunnies.

Die aansoekers is tussen die ouderdom van 18-35.

Hoewel duisende opgedaag het, sal net 120 aansoekers gelukkig genoeg wees om ’n pos los te slaan.

Net 1 uit elke 103 kandidate sal dus ’n job losslaan.

Elke dag word 1 050 kandidate getoets.

Hulle word uitgemergel om in aanmerking te kom vir dié bitter skaars geleentheid. Die desperaatheid kon duidelik op die aansoekers se gesig gesien word terwyl hulle met die uitdunne besig was.

Hulle moes onder meer 2,4 km draf om hulle basiese fiksheid te bewys.

Smith het gesê kandidate hoef nie topfiks te wees nie, maar hulle moet wel aan minimum fiksheidsvlakke voldoen. Die fiksheidstoetse het Maandag begin.

Die mans moet die 2,4 km binne 13 min. aflê. Die vroue kry 15 min. 30 sek.

Motorfiets

Manlike kandidate moet binne 60 sek. 30 push-ups doen en die vroue 21.

Dan moet die mans binne 60 sek. 45 sit-ups doen en die vroue 31.

Die aansoekers moet ook kort afstande heen en weer hardloop. Albei groepe moet 10 van dié dashes doen. Die mans het 60 sek. en die vroue 70 sek.

Kandidate word ook getoets om te sien of hulle ’n motorfiets kan hanteer.

Ná die fiksheidstoetse sal suksesvolle kandidate ’n skriftelike toets aflê.

Eers daarna sal hulle vir onderhoude gaan.

Die 120 kandidate wat gekies word, sal ’n traffic internship oor 12 maande doen.

Daarna train hulle ses maande by die Metropolisie se opleidingskollege in Observatory vir ’n kwalifikasie in munisipale polisiëring.

Smith het gesê: “Ons is trots daarop dat ons dié poste kon skep. Dis ’n werk wat jy vir iemand skep wat niks gehad het nie. ’n Gesin kan nou gevoed word.”

Sukkel

Tyler Lamb (22) van Ocean­ View het gister sy fiksheidstoets gedoen.

Hy het gesê: “Ek’t aansoek gedoen oor ek sukkel om werk te kry en nog altyd wetstoepassing wou doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters