11 dae gelede
KYK: Dood vat ma, toe kindjie (3)
VERDRIETIG: Lede van die gemeenskap staan Dawid Solomons, die pa, by toe sy kind se lyk uitgedra word.  ~ Jonathan Lestrade

SKAARS ’n week nadat ’n vrou van Wellington begrawe is, is haar driejarige kind se lyk in ’n kar gevind.

Son het verneem daar bestaan ’n moontlikheid dat klein Diego Booysen verkluim het.

Sy maatjie, Alexa Koopman, is ook gisteroggend skreeuend in die kar gevind.

Gister het hartseertonele hulle afgespeel by die huis waar die tragedie gebeur het.

“My klonkie is dood.

“Ek het gesien daar lê hy op die agterste sitplek, maar hy was dood,” het Dawid Solomons gister gesê nadat die lykie van Diego in die lykswa gesit is.

Diego en Alexa het Maandag net ná 14:00 soek geraak. Die twee bly ’n paar huise weg van mekaar af in Corona-singel in Newton.

Solomons (44) sê hy het daai tyd uit sy nap wakker geword en na Diego begin soek.

“Ek het gevra: ‘Waar is Diego?’ want hy is bedags gewoonlik in en om die huis doenig.

“Maar hy is nooit lank weg van die huis af nie.”

Volgens Solomons het die inwoners gesê Alexa en Diego is laas by die speelparkie in die straat gesien.

“Maar niemand kon sê waarheen hulle is van die parkie af nie.”

’n Grootskaalse soektog na die twee kinders is toe begin.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê ’n soektog deur die polisie en die gemeenskap is op tou gesit, maar dit het geen vrugte afgewerp nie – totdat die kinders gister in die motor ontdek is.

“Die meisie is na ’n hospitaal geneem vir observasie.”

Solomons sê hy het gister vroeg ’n boodskap gekry om te sê Diego is gevind.

“Ek het nie geweet hy is dood nie. Toe ek daar kom, het ek gesien hy is dood.”

Diego se mamma, Heidi Booysen, is net verlede Saterdag begrawe. Sy was siek, vertel Solomons.

Die couple het nog twee ander kinders, Leandra Booysen (19) en Dino (7).

TRAGEDIE: Die bloues staan voor die huis waar hulle hul moeilike taak moet uitvoer. INLAS: Diego se lyk is in dié kar by sy nog lewende maatjie gevind. Foto: Jonathan Lestrade

Alexa se familie was nie by Son se besoek tuis nie.

Volgens inwoners het die kind gelyk asof sy ontwater is. Sy het ook niks gepraat nie.

Geroep

Van die inwoners beweer daar is in die kar gekyk toe hulle na die twee gesoek het.

“Ons het hulle op hul name geroep en van huis tot huis gegaan.

“Ons het tot by die nuwe huis ook gesoek. Die kar was gesluit, maar daar was niemand in nie.”

’n Polisiebron sê dit is moontlik dat die soekgeselskap die motor misgekyk het. Dit was langs ’n huis oorkant die speelparkie geparkeer.

“Die stories het toe reeds die ronde gedoen dat hulle die kinders gesien stap het met iemand of dat hulle in ’n kar geklim het.

“Dalk het hulle (die soekgeselskap) nie daaraan gedink om in die kar te soek nie.”

TONEEL: Die plek waar die kinders gevind is. Foto: Jonathan Lestrade

Solomons sê dis ’n raaisel hoe die kinders in die kar gekom het.

“Toe die meisietjie se geskreeu hulle wakker maak, moes mense die kar se venster stukkend slaan om die kind uit te haal.”

Die eienaar van die kar is gister ingeneem vir ondervraging, maar geen klagte is aanhangig gemaak nie.

Sy vrou, Margaret Vermeulen, sê die kar staan al baie lank so stukkend en gesluit.

Oorsaak

Sy sê hulle het ook na die kinders gesoek en het niks deur die aand gehoor nie.

Traut sê hulle het ’n nadoodse ondersoek geopen om die oorsaak van die kind se dood vas te stel.

SNIKKEND: Dawid Solomons is baie emosioneel oor sy seuntjie. Foto: Jonathan Lestrade

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters