4 maande gelede
KYK: Dis taxi-moles
ONTSTELD: Theresa van Wyk soek iemand wat hulle respekteer.  ~ Mauricia Petersen

INWONERS van verskeie plase langs die R44 in die Stellenbosch-area het die afgelope week hul ontevredenheid uitgespreek oor die vrot diens van die taxi-­bestuurder wat hul roete ry.

Die omgekrapte bewoners meen dié spesifieke bestuurder se diens is nie na wense nie. Hulle sê hy het nie meer respek vir hulle nie.

Hy diskrimineer ook glo gereeld teenoor oorgewig mense wat in die taxi klim.

Theresa van Wyk vertel dat hulle meer as ’n jaar lank ’n ander bestuurder gehad het.

“Almal was gelukkig met die nuwe bestuurder wat sedert verlede jaar byna ’n jaar vir ons gery het,” sê Van Wyk. “Hy het goeie diens gelewer en het die mense respekteer.”

Onlangs is daar gesê dat die bestuurder nie ’n permit het nie. Die ou bestuurder het toe weer oorgeneem en vandaar het die ontevredenheid net opgebou. Van Wyk sê sy bly al 33 jaar op Elsenburg.

“Ons het nog nooit ’n probleem gehad met die taxi­bestuurders wat hier ry nie.”

Volgens haar het dít verander toe dié bestuurder meer as vyf jaar gelede begin ry het.

“Ons as plaasmense wil dieselfde behandel word as die ander,” sê Van Wyk.

Sy beweer daar word teen haar lyf gediskrimineer wanneer sy in sy taxi klim.

“Hy sê ook oumense oor 80 mag nie in sy taxi ry,” vertel ’n ontstelde Van Wyk.

“Ons is gatvol vir die manier hoe hy ons behandel. Ons soek iemand wat ’n goeie diens lewer en nie teen mense diskrimineer oor hulle vet is nie.”

Volgens Michelle Fielies, wat op Kromme Rhee bly, weier die bestuurder om in te ry by hul plaas, wat ’n ver ent van die pad is.

“Ons kry nie eers lus om dorp toe te gaan om te shop nie, want ’n mens het nie lus vir die lang wag nie.”

Fielies sê die ander bestuurder het hulle tot by die huis gevat.

Dien

Deon van Kerwel, voorsitter van die Stellenbosch-taxi-vereniging, sê egter die probleem is Donderdag opgelos in ’n vergadering met alle partye. Dis nou ná drie vergaderings oor dieselfde probleem.

“Die mense is belangrik vir ons. Daarom het ons besluit om eerder die bestuurder wat die mense soek, op daai roete te plaas.

“Ons dien die mense al langer as 60 jaar,” voeg hy by. Van Kerwel sê hulle het besluit om die bestuurder wat die afgelope jaar gery het, van gister af weer daai roete te laat ry. Hy sal dus nou vir die vorige bestuurder werk wat die permit het om daai roete te ry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters