3 maande gelede
KYK: Dinge is goor by dié kantoor
KWAAD: Julie de Bruin is baie ongelukkig oor die toestand van die toilette by die Sassa-kantoor in Eersterivier.  ~ Jonathan Lestrade

“DIE toilette is stukkend. Dit is verstop. Jy moet jou ding in die bos gaan doen.”

Dít is wat ’n sekerheidswag na bewering aan ’n vrou gesê het wat die toilette by die Sassa-kantoor in Eersterivier wou gebruik.

Julie de Bruin sê sy het laas week vroegoggend na die Sassa-kantoor gereis om onder die eerstes te wees wat gehelp word.

Teruggestuur

“Ek was al van 04:20 by die kantoor. Toe ek daar kom, was daar klaar meer as 300 mense – daai tyd van die oggend. Sommige het met hul komberse daar gelê om eerste gehelp te word.

“Party mense sê hulle loop al twee maande vir hul geld en elke keer word hulle net teruggestuur,” vertel sy.

De Bruin sê toe die kantore 07:30 oopmaak, toe trek daai ry by die garage.

“Ons het teen daai tyd al ure in die ry gestaan sonder om ’n toilet te gebruik.

“Omdat daar niks buite die kantoor beskikbaar is nie, moes ons maar wag totdat ons by die kantoor ingaan.”

De Bruin sê nadat sy in die kantoor gehelp is, het sy gevra of sy die toilet kan gebruik.

“Ek het met die security gepraat en vir hom gevra of ek die toilet mag gebruik. Toe sê hy vir my nee.

“Ek het gevra of hy ernstig is en hy het ja gesê.

“Hy sê toe die toilette is stukkend, dit is verstop, en ek moet gebruik maak van die bos oorkant die pad.”

De Bruin sê toe sy vir haar foon mik om ’n foto van hom te neem, het hy skielik gesê sy mag die toilet gebruik.

“Ek is toe toilet toe en toe ek by die laaste toilet wou ingaan, het ’n vrou wat reeds daarbinne was, gesê ek moenie daar ingaan nie, dit is verstop.

“In die badkamer was nog ’n vrou wat haar hande wou was en daai vrou het vir haar gesê daar is ook nie water nie,” vertel De Bruin ontsteld.

Sy sê dit is onhigiënies en onaanvaarbaar dat sy na ’n plek toe moet gaan waar die fasiliteite só lyk.

“Ons het ook menseregte. Mense is klaar depressed.

“Jy wag maande vir jou geld. Vir baie mense is dit hul laaste hoop en dan kom jy by ’n plek waar die toilet nie werk nie.

Vernederend

“Hulle moet aan ons ook dink. Hoekom kan hulle nie mobiele toilette verskaf nie?

“Ek het self gesien hoe vroue oor die pad stap na daai bos toe.

“Dit is vir ’n vrou vernederend om in ’n bos te gaan sit en haarself te verlig.

“Ek voel dit is onaanvaarbaar. Daar is nie eens waterpunte nie.

“Daar is nie genoeg stoele nie. Ons verdien nie om só behandel te word nie. Ons is ook mens.”

VERDIEN BETER: Julie de Bruin sê daar kan nie van vroue verwag word om hulself in ’n bos te verlig nie. Foto: Jonathan Lestrade

Shivani Wahab, ’n woordvoerder van Sassa, sê die sekerheidswagte by plaaslike kantore kyk na klante en help diegene wat ablution-geriewe by die kontakpunte wil gebruik.

“Die bestuur raai klante in rye aan dat hulle, indien nodig, water kan aanvra wat beskikbaar is vir alle klante in die gebou,” sê sy.

Wahab sê voorts die klante wat toegang kry tot Sassa-kontakpunte vir dienste, word voorsien van ’n sitplek wanneer hulle die wagkamers van die perseel binnegaan.

“Op die oomblik het ons nie genoeg stoele vir elke klant buite die perseel nie.

“Ons fasiliteer tans die lewering van addisionele hulpbronne by ons kontakpunte om dienslewering aan klante te verbeter,” voeg Wahab by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters