4 maande gelede
KYK: Die man agter (bril)jantjies
GeslyP: Christo Jephtas het Herschel Jantjies van kleins af afgerig.  ~ 

DIE man wat rugby se goue seun destyds bekend gestel het aan die Paul Roos Gimnasium, is Christo Jephtas (64), Herschel Jantjies (23) se laerskoolonderwyser.

Hoewel die nuwe Springbok-held genoem het sy pa, Sammy, is sy superhero, was daar nóg ’n persoon wat gehelp het om dié rowwe diamant te slyp.

Jephtas was Herschel se rugby-, krieket- en atletiek-afrigter by die Primêr Skool PC Petersen in Kylemore.

Die coach vertel hoe Herschel die eerste dag by die atletiekoefening met ’n rugbybal onder die arm opgedaag het.

“Ek het hom uitgelag, maar toe ek sien hoe goed hy die bal hanteer, het ek geweet daar steek iets uitstekends in hom,” sê Jephtas.

Die onnie vertel Herschel was op laerskool ook ’n kranige krieketspeler. Hy het Boland se o. 12-span gehaal in krieket. Hy’t ook aan ander sportsoorte deelgeneem soos basketbal en bofbal.

Herschel het egter in rugby begin skitter toe hy 11 jaar oud was.

“Herschel het pas aangesluit by die span, toe maak hulle hom kaptein,” onthou Jephtas.

Hy vertel elke keer as die span in die moeilikheid was, was Herschel die held wat hulle gered het – net soos in die afgelope twee wedstryde vir die Springbokke.

Jephtas beskryf die ratse Springbok as baie gedissiplineerd en ’n baie aangename mens.

Hy sê Herschel is ook baie vasberade.

Jephtas het gehelp sodat Herschel sy skoolloopbaan in die Paul Roos Gimnasium kon voortsit.

Herschel was eintlik al by die Hoërskool Kylemore geregistreer toe Jephtas kontak gemaak het met Paul Roos se skoolhoof.

Die dag ná die oproep was Jephtas en Herschel in sy kantoor.

“Herschel was ’n bietjie bekommerd omdat ons nie genoeg skietgoed het nie, vertel Jephtas.

Sy woorde aan Paul Roos se skoolhoof was: “Vandag bring ek vir jou ’n stukkie goud.”

Van daar het dinge net gebeur. En vandag is hy goud werd vir sy land.

Trane

Die sportman het Jephtas vroeër vanjaar, net voordat hy vir die Bokspan gekies is, besoek om hom te bedank. Herschel het gesê hy sal hom nooit vergeet nie.

Jephtas vertel die dag toe Herschel gekies is vir die Bokke se beginspan, kon hy sy trane nie keer nie.

“Ek het in die lug opgespring toe hy sy eerste drie vir die Springbokke druk.”

Jephtas wens Herschel alle voorspoed toe en sê hy moet sy voete altyd plat op die aarde hou.

“Jou sukses hang af van jou persoonlikheid en houding,” sluit Jephtas af.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters