29 dae gelede
KYK: ‘Demoon’ kry leerders beet
swak: Een van die leerders wat siek geword het.FOTO Verskaf  ~ 

’N DEMOON was gister beslis ’n onwelkome gas by ’n skool in Delft.

Pandemonium het geheers toe kinders moan dat ’n demoon hulle pla.

Ouers en leerders van die Laerskool Ma­sonwabe in Delft was in ’n flat spin toe die groen vrouedemoon blykbaar getry het om 14 leerders se lywe oor te vat.

Die aaklige gedrog het na bewering voor eerste pouse, net voor 10:00, haar lelike gesig by die laerskool gewys.

’n Gr. 6 C-leerder vertel ’n meisie van ’n ander gr. 6-klas is in hulle klas gebring omdat sy siek geword het.

“Kort ná dit het sy begin snaakse goed doen. Sy het agtertoe geval en toe sommer flou geword.”

Hierna het ’n klomp ander kinders begin “siek” word en snaakse goed gesien.

Toe die pouse aanbreek, het meer kinders op die skoolterrein siek geword.

Nog ’n kind in gr. 6 sê sy was vrek bang en wou net huis toe gaan. Sy sê sy kon nie wegkom nie. Sy het gevoel iets trek aan haar enkel.

“Ek het ook ’n antie gehoor praat by my oor. Sy het gesê, sy gaan my doodmaak!”

’n Inwoner wat naby die skool woon, vertel: “Die kinders het geskreeu en mal geword. Dit was baie deurmekaar.”

’n Ouer en ’n lid van die Delft-polisie se gemeenskapspolisiëringsforum wat anoniem wil by, sê amptenare by die skool het ná pouse gebel.

“Hulle het gesê ons moet ons kinders kom haal, want daar is groot fout.”

Die vrou sê nadat sy haar kind huis toe geneem het, is sy weer terug na die skool om te help.

“Daar was vyf ambulanse. Die mediese personeel kon medies niks fout met die kinders vind nie. Van die kinders het flou geword en is toe na die Symphony Way-kliniek en Delft-daghospitaal toe geneem.”

’n Iemand in die polisie wat bystand aan die skool gebied het, verklap: “Van die kinders by die daghospitaal sê hulle het ’n groen vrou in ’n wit gown gesien en siek word. Die einste vrou het haarself opgehang.

“Maar die dokters vind medies niks fout met die kinders nie. Niemand gooi op of iets nie. Dis net die goed wat hulle sien en ervaar.”

Die inwoners bespiegel die demoon het sy gateway in die skool gekry oor die leerders nie meer by die skool bid nie.

Bestraf

“Vandat die hoof oorgeneem het, is die skool so corrupt.”

Die gemeenskap het gister hot en haar na pastore gesoek om vir die skool te bid. Die pastore het met Bybels, olie en gebed opgedaag en magte in tale bestraf.

Die skool het gewemel van metropolisie, polisie en nooddienspersoneel.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê 14 leerders is na verskillende klinieke geneem.

“Dit is nog nie seker wat presies gebeur het nie. Die gemeenskap meen dis toordery.

“Ons wag vir meer inligting van mediese kenners oor wat presies met die leerders gebeur het.”

Ouers en oudleerders van die skool het die hoof voor die hek ingewag, maar ’n polisielid het met die hoof in ’n kar van die terrein af gery. ’n Hoë polisieteenwoordigheid is by die skool gehandhaaf.

Leerders kan eers Maandag na die skool terugkeer.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters