24 dae gelede
KYK: Chesray rus nou in vrede
Chesray Herringer  ~ Foto Verskaf

HY WAS ’n baie soet kind.

Só het Chesray Herringer se ouma Marilyn Hendricks gister op sy begrafnis baie hartseer van haar geliefde kleinkind gepraat.

Hendricks sê: “Hy was ’n kind wat baie vreugde in hom gehad het.”

Die vyfjarige laitie is op 26 Augustus voor sy huis in Angelastraat, Valhalla Park, dood nadat ’n carjacker in die seuntjie vasgery het.

Die kleintjie se familie is gister omring deur vriende en familie wat van hom kom afskeid neem het.

’n Groot groep kinders het T-shirts met sy gesig daarop gedra.

Die inwoners het ’n erewag buite sy ouerhuis gevorm. Hulle het in ’n lang ry gestaan om afskeid te neem van Chesray.

Die roubeklaers het toe na die Nuwe Apostoliese Kerk vertrek waar die begrafnisdiens gehou is.

Hendricks het voor die diens aan Son gesê haar boodskap aan ouers en families­ is dat hulle hul kinders moet oppas.

“Julle moet omsien na jul kinders,” het sy gemaan. “Kyk waar hulle speel en waar die gevare is.

“In die gebied waar ons bly, moet jou oë 24/7 op jou kind wees.

“Bewys daardie liefde vir jou kinders. Gee hulle ’n drukkie en wees daar vir hulle.

“Wat met Chesray gebeur het, het so gou gebeur.

“Hy was net uit by die hekkie en het daar gestaan – en kyk daar.

Voel

“Maar ek sê alles wat gedoen is, is welgedaan in die oë van God. Dit was Sy plan wat Hy vir ons kind uitgesit het.”

Hendricks sê hulle kan nie die klok terugdraai nie en voeg by: “Ons voel die pyn en ons is seer en stukkend, maar ons moet aan die ander kant ook sterk wees.”

GELIEF: ’n Groot groep mense woon Chesray Herringer se begrafnis by.­ Foto: Jonathan Lestrade

Shepherd Malcolm Cupido, wat die diens gelei het, het Chesray se ouers, Alvina Herringer en Chesco Walker, getroos deur te sê hul kind is nou veilig. Hy is daar waar sonde hom nie kan aanraak nie; ’n plek waar almal graag wil wees.

Onthou

Cupido het gesê: “Hy kyk af op julle as ouers en familie met ’n glimlag. Hy is ’n engel.”

Cupido het ook voorgestel dat die ouers die spesiale oomblikke met Chesray moet onthou en hom moet onthou as die prag-seuntjie wat hy was.

VAARWEL: Kinders met T-shirts waarop Chesray Herringer se gesiggie geprint is, neem afskeid van hul maatjie. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters