15 dae gelede
KYK: Buurt op hol ná dreins lol
SIES! Nadia van Rooyen is keelvol vir die stank.  ~ Jonathan Lestrade

KIES jy die corona-virus of k*kwater in jou sink?

Dit is die opsies wat die Van Rooyen-gesin van Wesbank naby Kuilsrivier sedert die naweek het weens die geblokte dreine in die buurt.

Nadia van Rooyen, die ma van die huis, sê hulle is nou al keelvol vir die stank van die strontwater wat soos expen­sive perfume in die lug hang.

“Die reuk lok vlieë. Jy kan nie eet nie en jy kan nie kos maak nie.

“Die ergste is dat jy nie in jou eie huis die toilet kan gebruik nie, want sodra jy die kraan oopmaak, borrel die stront by elke drein en in die sink op.

“Ons moet in ander mense se drolle vaskyk. Dit is mos nie ’n lewe nie. Ons kan ook nie hande was nie. So, ons moet maar die risiko van die corona-virus vat.”

Die Van Rooyen-gesin van sewe, van wie vyf kinders is, moet nou die bure pla vir badkamergeriewe.

“Die ergste is dat my een meisie haar maandstonde het. Hoe kan sy by ander mense gaan was? Nee, dit is onregverdig dié.”

Volgens Nadia het die probleem Vrydag begin. “Maar dis nie ’n nuwe ding nie. Ons sien dit elke jaar. Dan bel ons die raad.

“In die verlede het hulle gou uitgekom. Ons het vele kere gebel. Al wat hulle sê, is dat hulle iemand sal uitstuur. Ons wag nou nog.”

Verskeie strate se dreine is verstop en die rioolwater borrel uit. In Kasbastraat, twee strate van Hoofweg waar die Van Rooyens woon, het die water ’n groen dammetjie gevorm.

OPRUIM: Nadia van Rooyen moet heeltyd skoonmaak. Foto: Jonathan Lestrade

Die kinders speel elke dag in die rioolwater.

’n Inwoner van die straat sê daar is drie manholes in die pad. “Die een in die middel se deksel is juis deur die City (of Cape Town) se mense stukkend gery.

Opstoot

“Ons het dit met ’n bord toegemaak dat die kinders nie daarin kan val nie.

“Iemand het daai bord gevat. Daai gat het so vol papiere en vullis gewaai, maar die jongens het dit self weer skoongemaak.”

Ouma Roos van Rheede sê die reuk van die water maak hulle siek. “Dis kieme. As die wind opstoot, waai dit die reuk tot in ons huis. Jou bors trek sommer toe.”

SPEEL: Die kinders is min gespin oor die stank en speel daagliks in die rioolwater. Foto: Jonathan Lestrade

Xanthea Limberg van die Stad Kaapstad se afdeling vir water en sanitasie, het by navraag gesê hulle het mense gestuur om die drein by Kasbastraat skoon te maak.

“Die geblokte dreine het die volgende strate geaffekteer: Diepwaterstraat, Marthinus van Schalkwykweg, Achmat Williams-straat, Flower-, Happinessstraat en Wesbank se Hoofweg.”

Limberg sê die verstopping vind plaas wanneer die waterstelsel misbruik word. “Dit gebeur wanneer daar wipes, nappies, boumate­riaal, vetterige kosse, koerantpapier en lappe in die dreine beland. Inwoners moet hierteen waak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters