28 dae gelede
KYK: Breker in hof vir Booth hit
Eric Ntabazalila  ~ Peter Abrahams

AS DIE staat sy sin kry, kan Zane Kilian homself net so wel ’n Kapenaar doop.

Die oud-rugbyman van Gauteng is al meer as 35 dae in aanhouding vir die moord op lt.kol. Charl Kinnear van Bishop Lavis.

Kilian het gister in die Kaapse landdroshof verskyn vir die mislukte hit op William Booth op 9 April.

By ’n vorige geleentheid het hy in die Bishop Lavis-landdroshof voorgekom vir Kinnear se skietdood. Dié saak is weens veiligheidsredes na die Bellville-streekhof oorgeplaas.

Maandag is Kilian se borgtogaansoek in Bellville uitgestel, want die landdros wat die saak moes aangehoor het, het siek geword.

By Kilian se mees onlangse verskyning in Kaapstad het die hof weer gewemel van gewapende polisielede.

Van die polisielede was van kop tot tone in beskermingsdrag geklee. Hulle het Kilian na die dock vergesel. Die ander het in civvies – maar duidelik gewapen – die hele hof volgestaan.

Lede van die media is deeglik deursoek voordat hulle die hof kon binnegaan. Kilian het geen kontak met die media gemaak nie. Sy kenmerkende Mohawk is uitgegroei en sy hare grys.

Die hof het gehoor Kilian gaan op 10 November saam met Kauthar Brown (35), Ebrahim Deare (36), Riyaad Gesant (32), Kim Smith (32) en ’n 57-jarige man verskyn vir die mislukte sluipmoordaanval op Booth.

Die vyf is op CCTV footage geïdentifiseer nadat daar die oggend van 9 April op die regsman geskiet is.

Booth was in sy garage by sy huis in Higgo­vale, Kaapstad, toe twee gewapende mans op hom losbrand. Hy het agter die wiel van sy vrou se kar gesit toe daar op hom geskiet is. Hy is ongedeerd.

Werk

Die sestal sal voorkom op aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuur­wapen en vyf klagte wat verband hou met georganiseerde misdaad.

OPGEPAS: ’n Polisieman dra Zane Kilian se besittings na die Nyala waarin hy vervoer word. Foto: Peter Abrahams

Kilian se beweerde werk in die aanval en die moord op Kinnear was om die slagoffers se selfone te ping.

Enkele minute voordat daar op Booth geskiet en Kinnear doodgeskiet is, is hul selfone geping – na bewering deur Kilian.

Sy betrokkenheid by die moord op Timothy Lotter, eienaar van Extreme Measures Security, sy tjommie Stefan Venter, en Nici Heerschap, ’n Valke-speurder se pa, word ook nou ondersoek. Heerschap het sy seun se kar bestuur toe hy geskiet is. Al drie mans is in huurmoordaanvalle doodgeskiet.

Eric Bryer, Kilian se law­yer, het die hof gevra om al die bestaande klagte teen Kilian as een saak te behartig sodat hy een borgtogaansoek kan bring. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die staat sal borgtog teenstaan.

Ki­lian bly in die Goodwood-polisiestasie in aanhouding.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters