Verlede maand
KYK: ‘Boskantoor’ 'n nagmerrie
GEWURG: Die slagoffer sê die polisielede het tape gebruik en hom daarmee gewurg.  ~ Jonathan Lestrade

HULLE het sy hande agter sy rug geboei en hom na ’n bos gemarch om hom te martel.

Só vertel Eastan May (31) nadat lede van die polisie se anti-gang-unit (AGU) hom by sy huis in Hermanus opgetel het.

Vandaar is hulle na ’n bos in Camphill-weg waar hulle hom na bewering aanhoudend geskop en geslaan het terwyl hulle hom oor vuurwapens ondervra.

Die visserman May vertel die nagmerrie het Dinsdag omstreeks 07:00 begin.

“Ek het gedink ek gaan dood. Dit was ’n regte nagmerrie wat ek beleef het. Ek is nou nog onder pyn,” sê May.

“My ma het my wakker kom maak en gesê die polisie is weer hier. Hulle het ingekom en gesê hulle het inligting gekry dat iemand Saterdag vir my ’n vuurwapen gegee het om te hou.

“Ek het vir hulle gesê dis nie so nie. Ek was saam met my meisie daai tyd wat hulle van praat en het eers Sondag huis toe gekom. Maar hulle wou my nie glo nie,” kla hy.

May sê hulle het aan sy ma gesê hulle gaan hom wegneem, maar dat hulle hom gou weer sou terugbring.

Kantoor

“Ek het gedink hulle gaan my arresteer vir iets wat ek gedoen het, maar ek het niks sake nie.

“Hulle het my gevat na Camphill-weg in die bos. En een van die beamptes wat ek ken, het vir my gesê die bos is sy kantoor en dit is die grond van waarheid en die waarheid daar sal uitkom.

“Hy het ook aan my gesê daar in die bos sal niemand my hoor as ek raas of vir hulp uitroep nie.”

May vertel in die bos het hulle hom op sy maag laat lê en hom aan die arms in ’n grip gekry.

“Hulle het toe besef ek gaan niks sê nie en my toe probeer aan ’n boom vasmaak en my daar weer geslaan met hulle vuiste al in my ribbekas,” sê hy.

Volgens hom het een van die beamptes ’n pyp gevat en hom oor die kop geslaan terwyl ’n ander een ’n dik boomstomp gaan kry en langs hom kom staan het.

“Die polisieman wat ek ken, het toe tape­ gevat en dit al om my mond en neus gedraai en gesê: ‘Nou kan jy nie raas nie.’

“Hy was reg. Maar ek kon dan nie eens asemhaal nie.

“Hulle het my op die grond geplaas en met my gesig in die grond het een van hulle op my skouers gesit en ’n ander op my bene en aanhoudend gevra oor die vuur­wapen.”

GEMARTEL: Eastan May sê hy is langs dié boom geskop en getrap. Foto: Jonathan Lestrade

May sê hulle het seker besef dat hy nie kon asemhaal nie en het toe die tape van sy mond en neus afgetrek en dit toe om sy nek gesit.

Uitblaas

“Die een beampte het my begin choke met die tape en soos hy dit doen, vra hulle vir my oor die vuurwapen.

“Ek het gevoel ek gaan my laaste asem uitblaas. Ek het gevoel hulle gaan my doodmaak en daar los,” sê hy.

May sê hulle het hom weer in die vên gelaai en by die speurders se kantoor in die dorp afgelaai. Hulle het hom aangesê om nie ’n saak te maak nie en dat hulle weer na hom toe sal kom.

“Ek bly nou in vrees en weet nie of hulle weer aan my deur gaan klop nie, maar ek sal dit nie so los nie. Hulle kan nie net maak soos hulle wil nie. Hulle is hier om ons te beskerm, maar maak ons liewer seer,” sê hy.

TRAUMA: Eastan May sê hy het nie gedink hy gaan die nagmerrie oorleef nie. Foto: Jonathan Lestrade

May het kort ná die voorval ’n saak teen die polisielede aanhangig gemaak.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van ontvoering en aanranding by die Hermanus-polisiekantoor geregistreer is.

Volgens haar is dit aan die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) vir ondersoek oorhandig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters