28 dae gelede
KYK: Borgtog vir ‘maverick’
CHECK JOU: Morné Nel kom by die hof aan, vergesel deur gewapende cops net ingeval gemeenskapslede die reg in eie hand wil neem.  ~ Mark Mentor

WOLSELEY. – Vergesel deur swaar gewapende cops het Morné Nel Vrydag die landdroshof hier verlaat nadat borgtog van R1 000 aan hom toegestaan is.

Die 29-jarige Nel word daarvan verdink dat hy die 27-jarige Bradley de Bruin die aand van 22 Augustus op Kluitjieskraalweg liederlik aangerand het.

Gestop

Nel, wat ’n lid van die plaaslike buurtwag was, was op soek na sonpaneeldiewe en het die pad na bewering afgesper.

De Bruin het na wat verneem word in sy voertuig by die versperring gestop.

Nel het hom na bewering gedurende ’n onderonsie aangerand.

In ’n selfoon-video kan gesien word dat ’n man, na bewering Nel, ’n bewuste­lose De Bruin se nek buig.

De Bruin is so aangerand dat hy hospitaal toe moes gaan. Hy is intussen ontslaan.

Die voorsitter van die Wolseley-buurtwag, Elanza Basson, het aan Son gesê hulle veroordeel die voorval ten sterkste en Nel is uit die buurtwag geskors.

Basson voeg by: “Nel sal nooit weer ’n lid van die buurtwag wees nie.”

Nel het hom Donderdag aan die polisie oorgegee.

Groot ontevredenheid heers onder die bruin gemeenskap oor die borgtog wat die hof aan Nel toegestaan het.

Mense sê hulle ruik ’n voortrek-rot.

Nie eens Vrydag se reën kon die inwoners keer om na die hofgebou op te ruk om hul misnoeë met die borgtogtoekenning te wys nie.

Nel het eers ná 13:00 verskyn nadat die staatsaanklaer ’n hele ruk met die betogers vergader het.

Nadat borgtog aan Nel toegestaan is, het ’n in­woner gesê: “Dis duidelik dat hierdie ’n geval van wit versus bruin is.

“Daar is mense hier in Wolseley wat met moord wegkom.”

Kragtens Nel se borgtogvoorwaardes mag hy vir die duur van die hofsaak in Worcester bly.

Hoog

Hy verskyn weer op 17 September in die hof op die klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die gemoedere loop tans hoog oor die beweerde voorval van aanranding.

De Bruin se ma, Johanna, doen ’n beroep op die in­woners om die reg sy beloop te laat neem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters