2 maande gelede
KYK: Agt by hof nes helde hanteer
SOLIDARITEIT: EFF-lede sing en dans gister buite die Blue Downs-landdroshof nadat agt van hul medelede op ’n waarskuwing vrygelaat is.  ~ Anele Mfazwe

DIE comrades van die agt EFF-lede wat Vrydag in Brackenfell aangekeer is, het hulle gister soos helde verwelkom.

Dít was nadat hulle by die Blue Downs-landdroshof op ’n waarskuwing vrygelaat is nadat hulle die naweek agter tralies deurgebring het.

Die agt staan tereg op klagte van openbare geweld. Die mans is Lusapho Mkhonyana, Xolisa Qa­sha, Mandila­khe Mvumbi, Athini Nkosana, Lehlohonolo Mahlubayana, Cebisile Ba­ngo en Zamuxolo Blaauw.

Hulle is in hegtenis geneem nadat hulle Vrydag naby die Hoërskool Brackenfell met die polisie gebots het.

Alle hel het losgebreek toe die polisie die honderde fight­ers wou keer om buite die skool se hekke te betoog.

Die polisie moes skokgranate, waterkanonne, rubberkoeëls en traangas gebruik om die groep te disperse.

Die fighters eis die afdanking van die mense wat betrokke was by die reël van die “whites-only matric dance­”.

Kort nadat die sogenaamde Brackenfell-8 vrygelaat is, het die EFF se streeksekretaris, Banzi Da­mbuza, hulle buite die hof verwelkom.

Dambuza het gesê: “Dit is ons fighters hierdie wat teen rassisme opgestaan het.

“Rassiste het hulle daarvan beskuldig dat hulle misdadigers is.

“Ons weet die misdadigers is diegene wat ons baret gesteel het. Dit is verdedigers teen misdadigheid dié.

“Ons bedank julle dat julle vas gestaan het vir die revolusie. Ons sal julle tot die einde verdedig. Ons sal julle nooit vergeet nie, comrades.

“Ons sal julle altyd as die Brackenfell-8 onthou.

“Daar is geen leë blad in die revolusie nie.”

’n Woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, bevestig die agt mans het in die hof verskyn.

Volgens hom is hulle elkeen op ’n waarskuwing vrygelaat. Hulle moet weer op 12 Februarie in die hof wees.

“Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel,” voeg Ntabazalila by.

GEE SUPPORT: Die EFF se streeksekretaris, Banzi Dambuza, spreek die EFF-lede buite die Blue Downs-landdroshof toe. Foto: Anele Mfazwe

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters