4 maande gelede
KYK: Ag hokkies weg
weerloos: Nasiem Gamiet (44) spog met sy baba. Dié kleine mensie is ook nou dakloos.  ~ 

INWONERS van ’n plakkerskamp in die Bo-Kaap vrees hulle gaan verkluim in die bibberend koue weer.

Ag hokkies het Vrydagaand afgebrand. Die meeste van dié inwoners sit nou sonder heenkome.

Kerse

Volgens James Ter­blanche (62) woon hy reeds drie jaar in die plakkerskamp.

Terblanche vertel: “Ek het alles in die brand verloor.

“Dit is die tweede brand binne weke.”

Terblanche beweer die meeste inwoners het nie krag nie. Hulle maak van kerse en lampolie-stofies gebruik.

Volgens hom moet die Stad Kaapstad vir hulle elektrisiteitsbokse insit.

Hy meen dan sal die hokke nie afbrand nie.

Hy beweer die Stad se rampbestuur het vir hulle boumateriaal belowe, maar hulle wag steeds.

Harriet du Preez (41) sê: “Ek was by die werk toe my hok afgebrand het.

“Toe ek by die huis kom, het ek gesien daar het niks van my hok oorgebly nie.”

Volgens Nasiem Gamiet (44) het hy en sy familie gelê en slaap toe die brand uitbreek.

Gamiet vertel: “Iemand het ons kom wakker klop.

“Die gordyne was toe reeds aan die brand.

“Ek het net my vyf maande oue baba gegryp en by die deur uitgehardloop.”

Die hok van ’n bejaarde man van 75 het ook in die slag gebly.

René Hendricks (50) sê haar hok het ook ’n paar weke terug afgebrand.

Hulle wag steeds vir materiaal vanaf die Stad.

Hendricks vertel wat gebeur het: “Ons het gelê en slaap toe die kers omval.

“Die gordyne het aan die brand geraak.

“Die brand het binne 20 minute alles verwoes.”

Volgens die inwoners van die plakkerskamp sal hulle dit waardeer as daar mense is wat vir hulle komberse en klere kan skenk.

Die inwoners wie se hokke afgebrand het, gaan voor­lopig by vriende tuis.

Beserings

Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die brandweerdienste, het hulle langer as ’n uur gespook om die brand te blus.

Daar was geen beserings in die voorval nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters