18 dae gelede
KYK: 2 sterf saam
geruk: Jesse se pa, Lance Hess, huil gister op die toneel. Langs hom is sy vrou, Audrey.Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

HAAR naakte lyk is op haar bed gekry en haar oupa s’n is vasgebind in die badkamer gevind.

Die familie en vriende van Jesse Hess (18) en Chris Lategan (85) is geruk deur hulle wrede afsterwe.

Albei is Vrydagmiddag dood gevind.

In dié stadium lyk dit of die moordenaar maklik toegang tot die flat gekry het.

Toe Jesse se familie Vrydag niks van haar hoor nie, het hulle self gaan ondersoek instel by die Beauman Flats in Victoria­straat, Parow.

Jesse het by haar oupa en ouma gewoon terwyl haar ma in Amerika werk.

Nico Geldenhuys, Jesse se uncle, vertel aan Son hy het Vrydag 06:50 laas met haar gepraat.

Volgens hom het sy toe pas R5 000 in ’n Heart FM-kompetisie gewen en ’n bietjie daaroor gebrêgh.

Geldenhuys sê toe hy sowat ‘n uur later weer met haar probeer kontak maak, het sy nie gereageer nie.

Lance Hess, Jesse se pa, sê haar antie het hom gekontak omdat sy bekommerd geraak het nadat Jesse nie op haar boodskappe gereageer het nie.

Hess vertel: “Ons en nog ander familie het na die flat toe gekom.

“Iemand het deur die badkamervenster geloer en die oupa vasgebind op die grond gesien lê. Ons het besluit om die deur af te breek.

“Ek het besluit om buitekant te bly. Oupa se ander kleinkind het ingegaan. Sy’t geskreeu: ‘Jesse is kaal!’

“Al wat ek gedoen het, was om te hoop sy lewe nog.

“Ek het gehoop die ambulans kom betyds om haar te red.

“Ek het gedink is sy gesteek of gechoke.

“Alles dít het deur my gedagtes gegaan.”

Engel

Past. Deon Thöle het gistermiddag saam met ’n klomp lidmate van die Church of the Nazarene daar opgedaag.

Hy het gesê hulle doen ’n beroep op die gemeenskap om met inligting na vore te kom.

Thöle het Jesse, wat teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer het, as ’n regte engel beskryf.

“Toe ek haar vier jaar gelede ontmoet het, het sy my geweldig beïndruk. Mense wou met haar geassosieer word. Ons wil graag hê dat die saak verder gevat moet word.

“Ons vra dat die gemeenskap dapper sal wees en na vore sal kom. Dis tyd om uit te praat.

“As ons nie uitpraat nie, gaan ons toelaat dat die bose geeste beheer oor ons lewe neem.”

Volgens die polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk word ’n dubbele moordsaak ondersoek. “ ’n Nadoodse onder­soek moet gedoen word om die oorsaak van die dood vas te stel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
24 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters