Verlede maand
Kwaai vroue betoog voor president
sterk: Ntsiki Sisulu, die dogter van Albertina Sisulu, praat gister in die Mbekweni-rugbystadion.  ~ 

PAARL. – Terwyl talle op Vrouedag vir pres. Cyril Ramaphosa gewag het, het ander betoog.

“Stop farm evictions” en “Ons soek ons grond terug!” lees die betogers se posters wat Ramaphosa begroet het.

Die betogery het die land se eerste burger laat gemaak vir sy Vrouedag-afspraak in die Paarl.

Honderde mense het in die Mbekweni-rugbystadion saamgedrom om te hoor wat Ramaphosa sê.

Vanjaar se Vrouedag-tema vereer die struggle icon Albertina Sisulu.

Maar voordat hy nog ’n woord kon praat, het ’n tien stuks vroue met posters voor sy podium betoog.

Die posters basuin hul moerigheid uit oor plaasuitsettings en die kwessie van grondonteiening.

’n Bekommerde programdirekteur, Maggie Sotyu, het hulle gou gemaan om te gaan sit sodat die president kan praat.

Die betrokke vroue, skynbaar plaaswerkers, het eers na nóg motivering deur minister Bathabile Dlamini hul sit gekry.

Ramaphosa sê die regering is toegewyd om geweld teen vroue te bekamp.

Volgens hom is die regering selfs bereid om polisiebeamptes aan te praat wat in dié verband nie hul job reg doen nie.

Ramaphosa het van die geleentheid gebruik gemaak om te reageer op eise van honderde vroue wat laas week by die Uniegebou ’n memorandum oorhandig het.

Dié optog het op 1 Augustus plaasgevind en deel gevorm van die landwye #Total­Shutdown-veldtog teen geweld teen vroue.

Van die eise was dat ’n spitsberaad gehou moet word om agter die kap van die byl te kom oor hoekom so baie vroue in Suid-Afrika die slagoffers van geweld word.

Die doel van die beraad moet wees om behoorlike en praktiese oplossings te kry.

“Niemand het die reg om iemand anders se lyf te beheer nie,” voeg hy by.

“Ek is vandag op Vrouedag hier om te sê die spitsberaad moet plaasvind.”

Ramaphosa meen die mees effektiewe manier is om jong vroue te bemagtig.

“Daarom moet hulle in die klaskamers wees om kennis te kry. Daarom moet ons verseker dat hulle matriek klaarmaak. Ons soek ook kenners in wetenskaplike en wiskundige rigting.”

Oor die grondkwessie sê Ramaphosa: “Ons wil ver­seker dat grondhervorming gebruik word as ’n meganisme om vroue in landbou te bemagtig.” 

vergader: Honderde mense wag gister in die Mbekweni-stadion in die Paarl op die koms van pres. Cyril Ramaphosa. Foto’s: Anele Mfazwe
respek: Pres. Cyril Ramaphosa, die struggle-ikoon Sophie de Bruyn en die nasionale minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, sing die volkslied.Foto: Anele Mfazwe
solidariteit: Lede van die ANC-vroueliga sing en dans in die Mbekweni-rugbystadion in die Paarl.
welkom: Die struggle-ikoon Sophie de Bruyn soengroet pres. Cyril Ramaphosa.
sterk: Ntsiki Sisulu, die dogter van Albertina Sisulu, praat gister in die Mbekweni-rugbystadion.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters