11 maande gelede
Kursus ‘skep moontlikhede vir leerders’
sukses: Nigel Johannes, die programkoördineerder, met die suksesvolle leerders Shaun Lotteriet, Maura Nyathi, Ambrusha Christians, Quanver Zaal en Llewellyn Scholtz, die sentrumbestuurder.Foto: salmon smith  ~ 

DIE I-CAN-sentrum in Elsiesrivier het gedurende die winterskoolvakansie ’n suksesvolle opvoedkundige projek aangebied.

Meer as 50 gr. 11- en 12-leerders van minderbevoorregte gemeenskappe het ’n Microsoft-kursus gedoen.

Llewellyn Scholtz, die bestuurder van die I-CAN-sentrum, het gesê: “Die doel van die winterskool is om jeugdiges gedurende Junie-skoolvakansies te ondersteun met hul skoolkurrikulum en hul uitslae te ver­beter.

“Baie jeugdiges van oral in die Wes-Kaap word deur huislike probleme, bende-aktiwiteite en dwelmgebruik in die gesig gestaar.

“Dís waar die I-CAN-sentrum ’n rol speel – deur die jeug van die strate af te hou en hulle eerder te stimuleer deur tegnologie,” het Scholtz verduidelik.

“Die winterskoolprojek is die eerste in sy soort waar leerders Microsoft-sertifikate ontvang.

Befonds

“Meer as 80% van die kandidate het geslaag.

“Baie studente het nie die geld vir sulke programme nie. Dis hoekom die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) die projek befonds,” het Scholtz verduidelik.

Ighsaan Francis, ’n senior onderwysspesialis van die WKOD, het gesê: “Die projek help ook onderwysers om die kurrikulum beter aan te bied.

“Die Microsoft-sertifikate bevoordeel leerders omdat dit geleenthede open vir werk, en dit word ook deur ons universiteite erken.”

Een van die leerders het gesê: “Die I-CAN-sentrum gee hoop en aspirasie aan jong mense.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters