8 maande gelede
#KYK: Krismishare waai vir skool
Danfred Cupido is lid van die verenging wat die projek aanbied.  ~ Melinda Stuurman

WORCESTER. – Gister kon jy oral hier sien hoe die Krismishare waai.

Die Roodewal-flatse was ’n miernes van bedrywighede tydens ’n unieke gemeenskapsprojek “van die mense aan die mense”.

Vrywilligers het ingestaan om die hare van kinders wat vandag terug skool toe moet gaan, gereed te kry vir die groot dag.

Met die streng skoolreëls kan die leerders dit nie waag om op te daag met wilde Krismis- en vakansiehare nie.

Honderde kinders het gister ’n ander haarstyl gekry. Die wonderlikste van alles is dat dit gratis en verniet was.

Meisies en seuns van 5 tot 18 jaar het opgewonde in rye gestaan en wag vir hulle jaarlikse make-over.

So tussen die Roodewal-flatse deur was daar oral kinders te sien.

Sommige was klaar netjies en gereed. Ander het steeds met ’n paartie op die kop rondgeloop.

Van die kids het senuweeagtig toegekyk terwyl hulle maats se Krismislokke grond toe val.

“Maar dit is mos net hare en dit kan weer teruggroei,” het ’n antie getroos wat tussen die kinders gesit het terwyl hulle hare gesny word.

Danfred Cupido, ’n inwoner, reken: “Dit moet af. Dis so warm en hulle moet netjies lyk.

“Dit kos niks om ’n kind goed te laat voel oor hom- of haarself nie. En as jou hare mooi netjies is, voel jy mos sommer confident.”

Danfred, wat al ag jaar lid van Roodewal se sport-en-ontspanningsvereniging is, vertel hoe dit als begin het.

Etienne Cupido, Danfred se broer, en sy vriend Adam “Murphy” September het besef die skole stuur hopeloos te veel kids terug huis toe omdat hulle hare onnet is.

“Hulle het sommer self ingespring en die kinders se hare gesny. Nou, ag jaar later, gaan die projek voort,” sê Danfred.

AAN DIE WERK: Dit lyk asof hulle popspeel, maar dis ernstige besigheid wat hier aan die gang is. Jong meisies wys hulle skills terwyl hulle mekaar se hare reg kry vir skool.

Drie jaar gelede het hulle ook begin cater om meisies se hare verniet te laat vleg.

“Ons het sommer die jong meisies in die gemeenskap genader wat hare kan vleg, om hulle skills en tyd te volunteer. Vandag ondersteun hulle ons nog altyd.

“Daar is baie nuwe gesiggies wat ook kom volunteer het, en dit wys net dat mense bereid is om mekaar te help,” meen Danfred.

Hy voeg by dis wonderlik om te sien hoe jong meisies mekaar confidence gee net deur mekaar se hare te vleg.

Selftrots

“Dit is ons doel deur dié projek om vir mekaar te wys daar is mense wat omgee en dat ons na mekaar moet omsien.

“As jy goed voel, gaan jy sommer goed doen,” sê hy.

Intussen sê Pieter Verhoog, woordvoerder van die vereniging, die projek leer kinders selftrots.

“Hulle bou só gou selfvertroue net deur hulle netjies te laat voel en lyk.

“Daar is niks beter as om ’n kind te leer hoe belangrik dit is om na hulself om te sien nie.

“Dit is belangrik vir ons as ouer mense om dit vir hulle te leer sodat hulle dit saam met hulle kan dra soos wat hulle ouer raak,” meen Verhoog.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters