2 maande gelede
Kragkwessie maak kwaad
sophiatown,sunbirdpark,kaapstad
Sophia Town se retaliation het Maandag met protest optredes op die hoeke van Stellenbosch-arterial, die R102 en Saxdown gekom. Foto: Verskaf  ~ 

'N OORLOG is aan die broei tussen die inwoners van Sunbirdpark en die Sophia Town-informele nedersetting. 

Die inwoners, wat letterlik deur Sunbird-rylaan geskei word, se twis gaan oor elektristeit. 

Sophia Town is 'n uitbreiding van Happy Valley in Blackheath.

Na wat verneem word het die inwoners se stryd teen mekaar verlede Dinsdag begin toe' n transformer van 'n fabriek, waar die inwoners van die plakkerskamp na bewering onwettig krag getrek het, ontplof het.

Die fabriek het sy transformer laat herstel en dit so toegemaak dat die inwoners nie meer toegang tot dit kon kry nie. 

Verlede Donderdag het die inwoners se nood vir krag hulle na 'n kragpaal in Sunbird Drive North gedryf. Maar die inwoners van Sunbirdpark het die konneksie vinnig verbreek. 

"Saterdag was daar egter 'n nuwe connection aan 'n kragpaal by Pelicanweg," vertel Rudy Cookson, lid van Sunbirdpark se spesiale taakspan.

"Ons het as 'n eenheid en in samewerking met ons gewapende buurtwag die onwettige bedrading verwyder.

"Die lede het hul lewe gewaag want nie net het dit gereën toe die bedrading verwyder is nie, maar ons was ook nie seker of die gemeenskap van Sophia Town sou retaliate nie."

Sondagmiddag was daar maar net weer 'n nuwe kragkonneksie, kompleet met 'n waarskuwing wat op 'n inwoner van Sundbirdpark se bakkie gegooi is.

"Moet asseblief nie die wires verwyder nie. Ons baklei nie met julle nie, maar as die drade verwyder word, moet julle nie verbaas wees as julle trokke uitgebrand word nie. Ons baklei nie, maar as julle baklei sal ons terug baklei," lees die waarskuwing.

Sophia Town se retaliation het Maandag met protest optredes op die hoeke van Stellenbosch-arterial, die R102 en Saxdown gekom.

Verskeie paaie rondom die area is weens die optredes gedeeltelik gesluit en later weer heropen. Teen 13:00 was al die paaie oop vir verkeer.

Sunbird Park se inwoners het hul klagtes na die wyksraadslid vir die gebied, Ebrahim Sawant, gevat.

Hulle noem in hul skrywe: "Ons het Sondag self gesien hoe ses mans by Pelican-weg onwettige konneksies maak, terwyl nog ses by Sunbird North besig was met dieselfde ding. Mens kon ook duidelik sien die manne is nie amateurs nie. Hulle het beskermende uniform gedra en selfs die tools en die leer wat hulle gebruik het was van top gehalte. Raadslid, mense se lewe is in gedrang. U moet dringend intree."

Sawant se reaksie hierop is dat hy 'n dringende vergadering met Eskom gevra het, maar volgens Eskom is dit 'n Stad Kaapstad issue.

"Ek wag nog op klarigheid oor die ooreenkoms tussen die Stad Kaapstad en Eskom."

Intussen word die gebied gemonitor. 

Sers. Noloyiso Rwexana, 'n polisiewoordvoerder, sê niemand is tydens Maandagoggend se protesoptrede inhegtenis geneem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters