Verlede maand
Koppe moet rol ná dié hit
Seer: Talle polisielede van die AGU en ander eenhede het Vrydagmiddag byeengekom op die plek waar lt.kol. Charl Kinnear geskiet is. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

HOEKOM is die protection by lt.kol Charl Kinnear se huis beëindig terwyl daar oorgenoeg bewyse was dat sy lewe deurgaans bedreig was?

En wie het besluit die diens moet opgeskort word?

Dít is twee van die tergende vrae wat sedert die sluipmoord op dié topspeurder aan die anti-gang unit (AGU) gevra word.

Kinnear was een van die land se beste speurders, met meer as 30 jaar se ondervinding.

“Hy was die beste van die bestes,” het Bheki Cele, minister van polisie, Saterdag voor Kinnear se huis gesê.

Kinnear (52) is Vrydag omstreeks 15:00 in sy kar voor sy woning in Bishop Lavis doodgeskiet.

In Rou: Lt.kol. Charl Kinnear se twee seuns, Carlisle (24) en Casleigh (19), en hul ma, Nicolette (47), Saterdag by Cele se besoek aan hulle.

Sy twee seuns, Carlisle (24) en Casleigh (19), en sy vrou, Nicolette (47), was in die huis toe die noodlottige skote buite gevuur is.

Volgens die polisie is Kinnear veelvuldige kere in sy bolyf geskiet.

Cele sê daar is meer vrae as antwoorde in die sluipmoord op die baasspeurder.

“Ons wil nie bespiegel nie, maar een ding is seker: Ons het Kinnear in die steek gelaat. Ons kon beter gedoen het om sy lewe te beveilig.”

Kinnear en sy gesin het in November verlede jaar ’n moontlike aanslag op hul lewe gehad toe ’n man met ’n handgranaat naby sy huis gevang is.

Die handgranaat-voorval het ’n week ná die moord op kol. André Kay gekom. Kay is ook in Bishop Lavis voor sy huis doodgeskiet.

Luidens berigte was dié hit na bewering eintlik bedoel vir Kinnear, wat ook as “Kol. K” bekend was.

troos: Lede van die AGU ondersteun Vrydag mekaar by Kinnear se huis.

Son verneem dat een van die getuies in die skietmoord op kol. André Kay ook omstreeks twee weke gelede doodgeskiet is.

Verlede jaar het Kinnear se naam ook op ’n hit list verskyn.

“Die man se lewe is deurgaans onder bedreiging. Ons moet die feite kry, want dinge is nie reg gedoen nie. Koppe moet rol as ons die feite het,” het Cele met verwysing van die afskaffing van veiligheidsdienste gesê.

Kinnear se vrou het gevra dat haar man se dood nie net nóg ’n statistiek word nie. Sy het vroeër vanjaar die polisie in ’n mediaberig gevra om weer na haar gesin se veiligheid om te sien.

Dié pleidooi het egter op dowe ore geval.

Seer: Talle polisielede van die AGU en ander eenhede het Vrydagmiddag byeengekom op die plek waar lt.kol. Charl Kinnear geskiet is. Foto’s: Peter Abrahams

Volhoubaar

’n Lid van die AGU wat nie genoem wil word nie, sê die dienste was nie van ’n “gespesialiseerde veiligheidsdiens” nie. “Ons (die AGU) se lede is afgevaardig om voor Kinnear en genl.maj. André Lincoln (hoof van die AGU) se huis wag te hou. Dit was nie die actual protection services van die polisie nie.”

Die lid sê die plan was nie volhoubaar nie. “Partykeer het hulle (die lede) 24 uur ’n dag voor hul huise gesit. Hulle is nie oortyd gegee nie en daar was net nie genoeg AGU-lede om die plek van protec­tion services in te neem nie.”

Kinnear het verskeie hoëprofielsake ondersoek.

Dit sluit in die ondersoek na die bedrywighede van vermeende onderwêreld­figure soos Nafiz Modack, sowel as van korrupte polisiebeamptes.

Hy het ook die ondersoek van die vermoorde adv. Pete Mihalik gedoen.

Die Valke ondersoek tans sy moord.

Teen druktyd is daar nog niemand vir sy moord aangekeer nie.

  • Forensics for Justice, ’n organisasie wat deur Paul O’Sullivan gestig is, het ’n fris beloning van R1 miljoen uitgeloof aan enige persoon met inligting wat tot die inhegtenisneming van Kinnear se moordenaar kan lei.

Sullivan is ’n privaat speurder.

Die organisasie kon egter nie voor druktyd vir kommentaar bereik word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters