6 maande gelede
‘Kokaai trok’ sink besigheid
MOEDELOOS: Mark George sê ’n dealership en motorvervaardiger se swak produk het sy besigheid laat sink.  ~ Eldridge Jason

HAWSTON. – Sy nuwe bakkie was veronderstel om ’n boost vir sy besigheid te wees.

Maar ál wat dit hom in die sak gebring het, is trane en hy voel nou nader aan die randjie van bankrotskap.

Die teleurstelling sit vlak in Mark George se stem as hy praat oor sy vier jaar lange stryd met ’n vervaardiger en motorhandelaar wat ál die joy uit sy besigheid getap het.

Amper vier jaar gelede – in April 2016 – het George, ’n elektrisiën van beroep, by Helderberg MultiFranchise in Somerset-Wes ingestap in die hoop om sy besigheid ’n hupstoot te gee.

Byna vier jaar later is dit so te sê tatta vir George se besigheid nadat die trokkie, ’n Tata Super Ace, hom ál die hel in sy lewe gegee het.

“Toe ek by die dealership instap, het hulle nogal die voertuig geadverteer as ’n boost vir jou besigheid,” vertel George.

“Maar in ál die jare was daar nie een greintjie plesier vir my nie. Ek het die voertuig nie lank gehad nie, toe is daar olielekke, toe gee die injectors in, toe die ratkas...

“Hierdie trokkie was splinternuut toe ek hom gekoop het en ek kon nie verstaan hoekom hy sulke probleme gee nie.

“Selfs nadat die gearbox en enjin vervang is, het die probleme nie opgehou nie. In die vier jaar het ek seker net ’n jaar se plesier met daai Tata gehad, maar ek het getrou sy paaiemente en versekering betaal.”

George sê hy het egter baie besigheid verloor omdat hy nie oor ’n voertuig beskik het om sy jobs te doen nie.

“Ek het drie spanne werkers gehad wat na verskillende jobs vervoer moes word.

“Omdat die Tata meer by die dealership was vir regmaak, kon ek nie by ál my jobs uitkom nie.

“My besigheid het soveel belofte ingehou. Voor my Tata-kopseer het ek maklik meer as R800 000 ’n jaar uit my besigheid gemaak.

“Nou moes ek my besigheid sluit, want ek kon nie meer rondskarrel vir ’n werksvoertuig nie.

“Ek voel ingeloop. Ek het vir jare getrou betaal aan ’n stuk scrap van R193 000 wat my besigheid geruïneer het,” kla George.

Chris Drummond van Helderberg MultiFranchise is om kommentaar genader.

Drummond het gevra Son moet skriftelike navrae aan hom per e-pos stuur.

Dit was Woensdag en ons wag nou nog op hierdie kommentaar.

Tata Suid-Afrika se Sonja Bezuidenhout het ook beloof om ondersoek in te stel na George se ordeal en antwoorde aan ons te verskaf.

Teen druktyd en dae se gewag was daar egter ook geen sien van hierdie beloofde kommentaar nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters